Bekende kunshandelaar oorlede
Die bekende kunshandelaar, Johnnie Erlank (80), wat vir jare Erlank Kunsgalery in Middelburg bedryf het, is Donderdag by sy huis naby Modimolle oorlede.

Sy dogter, Mercia Kriel, sê hy het die oggend nog ’n uitstalling gehad in Modimolle.
“Alles het reg gestaan by hul huis sodat hulle die volgende dag na ons toe sou ry, vir hul kleinkind se eerste verjaardag. Ons wou hê hulle moes Donderdag al deurkom, maar my pa wou net eers ’n uitstalling hou.”
Sy vrou, Nerine, het gehoor hy kom ingery by hul huis in die Bosveldsig kompleks. Toe hy egter nie inkom nie, het sy gaan soek na hom en hom in die motorhuis gevind. Hy was reeds dood.
“Hy het gesterf tussen dit waarvoor hy so lief was, die skilderye wat hy altyd uitgestal het.”
Mnr. Erlank het vroeër jare skoolgehou by Hoërskool Middelburg, daarna by Laerskool Staatspresident C.R. Swart en toe by Laerskool Kanonkop.
Hy het egter later die kunsgalery geopen en was welbekend in die dorp met sy kunsuitstallings.
Die egpaar het op Struisbaai gebly vir 10 jaar en ’n kunsgalery bedryf, maar het in 2020 na Modimolle verhuis, om nader aan hul kinders te wees.
Hy kon egter nooit stilsit nie en het tot met sy dood die kunsuitstallings gehou.
Die begrafnis is Vrydag (28 Junie) om 11:00 op die plaas Ongezien, 35km buite Middelburg op die Stoffbergpad (R555)
• Persone wat kontak wil maak met die familie, kan Christa Roux skakel by 082 388 3710.
• ’n Huldeblyk oor mnr. Erlank, sal in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.