News

Dogter vra: ‘hou op gee vir brandslagoffers van McDonaldstraat’

Ina de Wet se hart is stukkend omdat die huis waarin haar ouers vir 47 jaar gebly het en waar hulle ook wreed aangeval is in Oktober 2023, verlede week afgebrand het.

“Ek gaan ’n ondersoek laat doen. Dit is kamtig elektries van aard, maar die huis is nie behoorlik in stand gehou nie. Almal gee nou allerhande donasies vir die mense wat daar gebly het, maar daar word vergeet van my ma, tannie Marietjie Berrange, ’n 83-jarige vrou, wat niks oorhet nie. Die huis is al wat sy nog gehad het!”

Tannie Marietjie se huis het op 18 Junie aan die brand geraak.

Engela Gilau, wat in die huis was toe dit begin brand het, het gesê daar was ’n elektriese kortsluiting.

Sy het ook genoem dat dit haar oupa- en oumagrootjie-hulle, Izak en Marietjie Berrange se huis in McDonaldstraat is, waarin hulle gebly het.

Oom Izak en tannie Marietjie is die aand van 11 Oktober 2023 in dié huis aangeval en oom Izak is voor tannie Marietjie doodgeslaan.

Tannie Marietjie bly sedertdien by Ina.

Die grootste deel van die huis het afgebrand.

“Ek het eers later deur die dag, teen 17:00, toe ons nie meer die rook kon sien nie, my ma soontoe gevat om te gaan kyk. My ma is teen die grond. Dit is al wat sy nog oorgehad het, nou is dit net murasies.”

Me. De Wet was geweldig ontsteld, eerstens omdat Engela gesê het dat oom Izak en tannie Marietjie haar oupa- en oumagrootjie is.
“Dit is nie haar groot oupa en ouma nie! Dis haar kêrel, met wie sy nie eers getroud is nie, se groot oupa en ouma.”

Me. De Wet noem dat hulle aanvanklik die huis verhuur het vir ’n ekstra inkomste vir haar ma, wat net ’n ouderdomspensioen kry.

Nadat die huurders uit is, het hulle ’n agterkleinkind verniet in die huis laat bly, om dit netjies in stand te hou, terwyl daar gesoek word na ’n koper, sodat tannie Marietjie iets kon kry van haar huis om haar ouderdomspensioen aan te vul.

“Die eerste keer toe ek daar kom, het daar ’n daggaplant voor in die erf gestaan!”

Hulle het later verneem dat die huis ook onderverhuur word, sonder tannie Marietjie se toestemming.

“Niemand het tot vandag toe nog my ma gebel en eers jammer gesê nie. Ek voel al die insamelings vir hulle moet dadelik stop! Net hul eie artikels is uit die huis uit gesleep. Al my ma se goedjies het verbrand. Sy is die slagoffer hier.”

Lees ook:

Vrou roep aanmekaar vir hulp terwyl huis brand

Back to top button