Vyf insluitende twee polisielede vas, weer vrygelaat vir ietermagog handel
Aanklaer stuur dossier terug weens ‘gate’
Vyf mense, onder wie twee polisielede, is Sondag in Stoffberg gearresteer na ’n mislukte poging om ’n bedreigde ietermagog te verkoop.
Die vyf wat gearresteer is, is deur die Valke en polisie dopgehou tydens ’n afgespreekte ontmoeting by ’n vulstasie digby Stoffberg.
Daar sou die beweerde ‘koper’ die ietermagog in ontvangs neem, maar die beweerde verkoper was senuagtig van meet af.
Daar is gesien hoe ’n man die beweerde ‘koper’ nader en tydelik met hom in gesprek tree.
Toe dit duidelik word dat die beweerde ‘verkopers’ onrustig is en die transaskie na ’n ander plek verskuif is, is daar toegeslaan.
’n Swart Ford Ranger is toe voorgekeer en daar is beslag gelê op ’n wapen in die bakkie.
Die insittendes is gearresteer en hul fone is nagegaan.
Op WhatsApp gesprekke op die foon was dit duidelik dat daar ’n transaksie vir die koop van ’n ietermagog gereël is.
Boodskappe het ook die ontmoeting by die vulstasie bevestig.
Vyf mense is gearresteer, waaronder twee polisielede. Die polisielede is beide van Limpopo.
Hul identiteite en range is nie bekendgemaak nie.
• Die verdagtes is egter intussen weer laat gaan, nadat die saak van die hofrol verwyder is weens ‘gate in die dossier’.
