News

Video: Pofadder onder kantoortafel laat man spring

’n Spekvet pofadder het hom tuis gemaak onder ’n tafel in ’n kantoor!

Wees versigtig om lekker kruisbeen by jou kantoortafel te sit, want jy mag dalk net op ’n pofadder trap!

Johan Stals moes Maandag vinnig van sy stoel af spring toe hy ’n pofadder onder sy tafel gewaar. Hy wou werk gaan doen in sy kantoor in hul lapa op die plaas (N11 oorkant die vliegveld), toe hy die pofadder sien.

Sy vrou, Louise, het hom hoor gil en dadelik nader gehardloop om te hoor wat is fout, waarop sy ook die pofadder opgemerk het.

Die pofadder het hom opgekrul om luilekker onder die tafel te kuier.

Mark Salzwedel, ondervoorsitter van die Middelburg Herpetologiese Vereniging het die pofadder gaan vang en reeds weer in die omgewing losgelaat.

Mark meld dat hulle nogal ’n toename het in slange wat in huise en besighede gaan skuil weens die baie reën. Dit is egter ook die draai van die seisoen en is slange op jag voor hulle gaan hiberneer.

Die pofadder is reeds losgelaat in die veld waar dit nie naby mense kan kom nie.

Hy vra dat wanneer mense ‘n slang opmerk, hulle die slang moet dophou wanneer hulle die lede van die herpetologiese vereniging kontak, aangesien ‘n slang baie vinnig van een area na die ander kan beweeg. “As jou tuin netjies en skoon is, gaan die slang verbybeweeg na ’n ander area waar hy rotte in die hande kan kry.”

As mense onseker is watter slang dit is, moet hulle dit nie self probeer vang nie. Sit eerder ’n pyp (wat toe is aan een kant) of ’n emmer met koerante binne-in skuins neer, sodat die slang daar kan inkruip tot die slangvangers die slang kan kom haal.

• Alhoewel ’n pofadder ’n baie lui slang is en lank op een plek kan lê, moet onkundige mense nie die slang onderskat nie. Dit die slang wat die vinnigste pik in Suid-Afrika. “In die tyd wat jy jou oë knip, kan hy jou twee keer al gepik het!” sê Mark.
Die pofadder se gif is uiters sitotoksies en dit voel asof jy jou ledemaat in kookolie druk wanneer dié slang jou pik. Weefselskade tree dadelik in en moet ‘n pasiënt binne ’n uur teengif kry.

• Fanie Strydom, ’n voormalige ondervoorsitter van die Middelburg Herpetologiese Vereniging sê hy kan getuig hoe erg ’n pofadderbyt is, nadat hy ’n paar jaar gelede op sy regterduim en -wysvinger gepik is.
“Ek was gelukkig dat ek nie ’n vol byt gekry het nie en net een tand het ingegaan, maar dit was genoeg vir baie pyn.”
Hy bly in Phalaborwa en is daar met hom gejaag na die Tzaneen Hospitaal waar hy ses ampules teengif moes kry. Hy het boonop ’n allergiese reaksie gehad en het twee en ’n half dae in die hospitaal deurgebring.

Fanie Strydom het twee en ’n halwe dae in die hospitaal deurgebring nadat hy deur ’n pofadder gebyt is.
Die plek op Fanie se hand waar die pofadder hom gepik het.

Ander giftige slange in ons omgewing waarvoor mense versigtig moet wees, sluit in:

• Die sypikslang, ook die Bibron of Stiletto genoem, kom algemeen hier voor. Hy word soms verwar met bruin huis- en waterslange. Hierdie slang se tande is buite sy kop en sal beslis pik. Weens die ligging van sy tande kan jy hom nie agter die kop vang nie en is uiters gevaarlik.
‘n Stiletto se gif is sitotoksies en veroorsaak erge pyn en swelling. Daar is geen antiserum vir dié slang se gif beskikbaar nie en behandeling is simptomaties.

• Die rinkhals se gif is neurotoksies (dominant) én sitotoksies. ‘n Rinkhalsbyt kan tot 72 uur neem voordat die pasiënt ernstige simptome begin wys. Hierdie slang kan soms maak of hy dood is. Hy is dan op sy gevaarlikste, want as jy hom optel, sál hy byt.

• Die Mosambiekse spoegkobra is ‘n uiters giftige slang en kom al hoe meer in ons omgewing voor. Gif is neuro- en sitotoksies en in 70% gevalle moet mense veloorplantings kry na dié slang se byt.

• Die dodelike swartmamba kom eintlik in bosveldgebiede voor, maar die afgelope paar jaar is daar al talle mambas in die Middelburg omgewing gevang. In April verlede jaar is twee swartmambas binne twee weke in die Middelburg omgewing gevang, een sowat 8km vanaf Midwater Spar op ’n plot en die ander een in Hoopstraat (Sentraal).

Lees ook: Video: Ssss-swartmamba boos agter die glas

Tydens ’n vorige onderhoud met Victor Boshoff, die voorsitter van die Middelburg Herpetologiese Vereniging, het hy gemeld dat ’n swartmamba letterlik ’n bondel spiere is. As jy hom aan sy stert probeer optel, sal hy teen sy stert opkom en jou pik.
Hy het gesê dat mambas 6.7 myl per uur op ’n gladde oppervlak en 11.5 myl per uur in sy natuurlike habitat in bosse kan beweeg.
Die swartmamba het neurotoksiese gif, wat beteken dat die diafragma aangeval word en die persoon binne ’n kort tydjie sukkel om asem te haal.
Victor het gewaarsku dat as ’n swartmamba ’n persoon in die gesig, nek of bors pik, hy binne ’n halfuur kan sterf. “Baie mense weet nie eers hulle is gepik nie, omdat sy byt baie keer pynloos is en hy so vinnig pik.”
Alle mense wat deur swartmambas gepik word, moet antiserum kry.
•’n Paar jaar gelede moes ’n persoon 15 ampules antiserum kry om sy lewe te red, nadat hy op ’n plaas op die Stoffbergpad deur ’n swartmamba gepik is.

@middelburgobserver

Pofadder in kantoor onder tafel gevang. Middelburg Herpetologiese Vereniging vang nou byna daagliks slange wat na huise en besighede vlug weens die reën.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button