Video: Ongeluk op Stoffbergpad, K9-eenheid soek vrugteloos met honde na vierde ‘beseerde’
Die polisie se tyd is vanmiddag vir ure gemors terwyl hulle na 'n 'beseerde' in 'n mielieland gesoek het.
Die Middelburg K9 (honde) eenheid is vanmiddag na ‘n toneel ontbied nadat ‘n passasier te kenne gegee het dat sy ‘beseerde oom’ uit die voertuigwrak geklim en die mielielande ingehardloop het.
Nadat adj. André Smit met Zues en adj, André Booyens met Duke vir meer as ‘n uur in die mielieland na die persoon gesoek het, is hulle laat weet dat een van die beseerdes erken het dat daar nie nog ‘n persoon in die kar was nie.


Al die insittendes van ‘n donkergroen Golf 4 is uit die voertuig geslinger toe dit sowat 9km buite Middelburg op die Stoffbergpad (R555) gerol het. Die voertuig het tot stilstand gekom op sy dak teen die mielielande op die plaas Sterkstroom.

Met die polisie en ambulansdienste se aankoms op die toneel het hulle die beseerdes almal buite die voertuig en in die mielielande gevind.

Een van die mans is baie ernstig beseer en kon nie met die lede op die toneel praat nie. Alhoewel die twee ander ernstige snywonde opgedoen het, was hulle by hul positiewe en is gesê dat hulle vier in die voertuig was. Daar is gemeld dat een van die vier ‘n duimgooier was wat hulle vroeër die middag opgelaai het.

Die polisielede op die toneel was uiters bekommerd oor ‘n moontlike vierde pasiënt en het die Middelburg K9-eenheid gekontak, omdat hulle nie nog ‘n pasiënt in die groot mielieland kon sien in die omgewing waar die ander gekry is nie.
Na die uurlange vrugtelose geesoek, is daar laat weet dat die persoon wat ernstig beseer en hospitaal toe geneem is, die bestuurder van die voertuig was en dat daar drie, maar nie vier mense in die voertuig was nie.
@middelburgobserver Three people injured after vehicle rolled into farm on the Stoffbergroad, 9km from Middelburg.
