Hulp benodig om gedenkkerkie op die terrein van die Hoër Tegniese Skool op te knap
Die gemeenskap kan help dat die gedenkkerkie by HTS Middelburg, 'n nasionale gedenkwaardigheid, gerestoureer word.
Vir baie inwoners van Middelburg en distrik is hierdie klein kerkie ‘n onbekende skat van ons geskiedenis. ‘n Onbekende erfenispunt wat reeds in 1977 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar is!
Verskroeide Aarde beleid
Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) implementeer die Britse Magte ‘n beleid van Verskroeide Aarde, as strafmaatreël teen die boerekommando’s en om die kosvoorsiening aan die kommando’s te ontwrig. Volgens die beleid word plaaswonings afgebrand, vee weggevoer of geskiet en graanlande verwoes. Die plaas se inwoners word afgevoer na konsentrasiekampe om daar aangehou te word.
Eerste vroue en kindes kom in Middelburg aan
Vanaf November 1900 word bejaardes, vroue, kinders en gestremdes ook na Middelburg afgevoer. Die eerste vroue en kinders kom in Middelburg op die stasie aan in November 1900 en ‘n eerste kamp word ingerig in huisies en tente direk oorkant die spoorlyn op die Stasie.
Teen Desember 1900 word ‘n formele kamp begin wat uiteindelik die totale area suid van die spoorlyn vanaf Laerskool C.R. Swart, die terrein van die Hoër Tegniese Skool Middelburg tot teen Aerorand in beslag geneem het.
Yskoue winters in konsentrasiekampe
Vroue, kinders en bejaardes het in die oop area in tente gewoon tydens van die koudste winters op rekord gedurende Junie-Julie 1901.
Die omstandighede was haglik met beperkte kosvoorrade, te min drinkwater, swak sanitasie en te veel inwoners per tent.
Tot 13 begrafnisse per dag
Alhoewel beperkte mediese dienste beskikbaar was, sterf geweldig baie inwoners in die swak toestande, veral aanaansteeklike siektes soos masels. Teen Junie 1901 was daar 7500 inwoners in hierdie kamp en vind daar gemiddeld 13 begrafnisse per dag plaas!

Vroue kraam in oop spoorwegtrok
Ou oom Philippus Rudolph Botha, 79 jaar oud, van Stofberg, verkluim in Junie waar hy en sy dogter buite moet slaap weens te min tente, met net ‘n mieliesak om hom te probeer warm hou.
Albei kinders van die Engelbrecht-gesin van Bethal sterf op 5 Julie 1901 en ook twee kinders van die Holland-gesin van Dullstroom.
Twee jong vroue kraam op die trein in ‘n oop spoorwegtrok op pad na die kamp en die een vrou sterf dieselfde nag. Hulle is almal in die drie begraafplase om die dorp begrawe.

Swakste kamp in Transvaal
‘n Britse Vrouekommissie wat die Middelburg-kamp besoek, beskryf dit as die swakste kamp in die hele Transvaal.

Meer as 400 sterf weens onmenslike situasie
Die kamp suid van die spoorlyn sluit in Desember 1901 vanweë die onmenslike situasie, siektes en sterftes, en ‘n nuwe, derde kamp word op Kanonkop uitgelê. Hier sterf egter steeds oor die 400 inwoners.
Kampe sluit, terug na afgebrande plase
Met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, sluit hierdie kampe en die inwoners word vrygelaat, om terug te gaan na afgebrande plase, verwoeste plaashuise – met nét moed en geloof om hulle lewend te hou!
Weeskinders en weduwees bly agter
Daar bly egter ‘n groot aantal weeskinders agter, asook verskeie weduwees. Hierdie weduwees word teruggestuur na hul verwoeste plase met ‘n koei mét (darem) ‘n kalf, ‘n paar hoenders en hout en sinkplate om ‘n klein huisie te bou!
In totaal sterf ongeveer 1400 persone in die drie Middelburg-Konsentrasiekampe!
Die gemeenskap van Middelburg besluit om ‘n gedenksaaltjie op te rig op die terrein waar die Kamphospitaal se tente gestaan het ter herdenking aan die sterftes in die kampe.
Die saaltjie word in 1906 opgerig met geld wat ingesamel is onder die verarmde gemeenskap van Middelburg.
Die saaltjie kon ook gebruik word vir arm inwoners van die omgewing wat nie die kerk in die dorp kon bereik nie.
Die Middelburg-tak van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie is in die saaltjie gestig as ook die Vroue Sending Vereniging.
Saaltjie oorgedra aan NG Suid, later stadsraad
Die saaltjie word later oorgedra aan die NG-Gemeente Middelburg-Suid en dan later oorgedra aan die stadsraad om ‘n museum te vestig.
Die saaltjie verval egter en in 1968 word dit opgeknap deur die Skakelkomitee van Middelburg. Die museum kom ongelukkig nie tot stand nie, aangesien die stadsraad besluit om eerder Botshabelo Sendingstasie as museum te ontwikkel.
Met die uitbreiding van die Hoër Tegniese Skool, is die gedenksaaltjie of kerkie nou gelukkig ingesluit binne die skoolterrein, waar dit met trots beskerm word, maar dis onmoontlik vir die skool om die gebou in stand te hou – skoolgeld mag, om verstaanbare redes, nie daarvoor gebruik word nie.
Middelburgers moet help om 120-jarige gebou te bewaar
Ongelukkig het ‘n gebou wat 120 jaar oud is basiese instandhouding nodig om dit verder te bewaar.
Dit is ons as inwoners van Middelburg se verantwoordelikheid om hierdie gedenkteken vir 1400 onskuldige, veral vroue en kinders, te bewaar en dit is nou weer noodsaaklik om basiese instandhouding aan die geboutjie te doen, lekplekke te seel en dit so vir die nageslag te bewaar.
Die gebou is ook as ‘n kerkie beskikbaar om verdere fondse te genereer (nadat die instandhouding afgehandel is!)
Daarvoor loods die Middelburg Erfenis, nou ‘n insamelingsprojek vir fondse vir instandhouding, 60 jaar na die vorige restourasie.
Elke klein bydrae, of ‘n borgskap van vakmanskap of materiaal verseker dat die gebou in lyn met Erfeniswetgewing bewaar word as ‘n skat vir die dorp, maar ook as ‘n gedenkpunt vir gestorwe vroue, kinders en bejaardes in die Oorlog kan bly!
Persone wat hulle wil ondersteun, kan vir Rudi van Wyk (voorsitter Middelburg Erfenis) ‘n e-pos stuur by vanwykrudi5@gmail.com of ‘n WhatsApp stuur na 082 569 8510.
