Bejaarde wreed op plaas vermoor
’n Bejaarde man is Woensdagmiddag wreed op hul plaas tussen Laersdrif en Roossenekal vermoor.
Mnr. Robert Stoltz (79) se dogter, Mariaan, het gisteroggend op die grusame toneel in haarpa se badkamer in sy huis op die plaas Stofkraal, op die Harteluspad, afgekom.
“Ek wil hê die hele wêreld moet weet wat gebeur het! Hulle het nie gekom om hom te roof nie! Hulle het gekom om hom te moor! ’n Trop lafaards het op hom toegesak. Hulle kon hom net vasgemaak het en gevat het wat hulle wou, maar hulle het hom doodgemaak vir sy selfoon en sy kar, wat in elk geval naby Steelpoort gerol het! Ons plaasboere is in gevaar!” het oom Robert se seun, Marius (bestuurder van Buco Middelburg), ontsteld vanoggend uitgeroep.
Na aanleiding van die tyd wat hul pa se voertuig by die veiligheidskameras verby is, die baie bloed wat buite sy huis en in die huis gekry is, asook voetspore buite die huis, kon die familie ’n effense prentjie vorm van wat gebeur het.
“Die veiligheidskameras het gewys dat my pa se Chery karretjie om 18:45 by die plaas uit is. Die moord moes dan tussen 16:00 en 18:00 Woensdag plaasgevind het,” sê Marius.
Oom Robert het terwyl sy vrou, Anna nou by Marius in Middelburg gekuier het, party aande by sy dogter, wat in ’n ander huis op die plaas bly, sowat 800m van hul huis af, gaan eet. Ander aande het hulle vir hom kos afgevat huis toe.
Mariaan was omstreeks 16:00 by haar pa om te vra of hy by hulle gaan kom eet en of hulle moet kos stuur. Hy het egter gesê hy het nog genoeg te ete en dit nie nodig is nie. “Ons weet nie of hulle toe al vir hom gewag het nie, want daar is spore in die stoor ook gekry.” Op grond van die spore blyk dit dat die moordenaars te voet gekom het.
Gisteroggend het die werkers laat weet dat hulle nog nie vir oom Robert gesien het nie en is Mariaan af na haar pa se huis toe, waar sy op hom afgekom het.
“Daar was baie bloed buite en lyk dit of hulle hom daar aangeval het. Maar ons het gister toe ons gaan om alles te sluit, ook gesien dat die sitkamer se veiligheidsdeur en deur afgebreek is. So ons weet nie wat presies gebeur het nie,” sê Marius.
Die bloed oral buite en deur die huis, is ’n aanduiding dat die moordenaars hul pa van buite na binne gesleep het, waar hulle hom in die badkamer gelos het om weens sy beserings te sterf.
“Sy hande was met bloudraad vasgemaak en hulle het sy hande geweldig gesny. Hy het hom ook in sy sy geskop en daar was houe op sy slaap en kop. ’n Kussingsloop was ook om sy mond vasgemaak! Daar was oral bloed!” onthou Marius die ontstellende toneel.
Sy broer, Rudi, het van Steelpoort, se kant af gekom en het hul pa se voertuig langs die pad naby Steelpoort gekry waar dit gerol het. Die insittendes van die voertuig was reeds weg.
Marius meld dat daar sowat drie weke gelede ingebreek is by sy ouers se huis en die wapens gesteel is. “Ons weet nie of dit dalk dieselfde mense was en of dit iets daarmee te doen het nie.”
Hy sê hartseer dat sy pa almal om hom vertrou het. “Hy het altyd net die goed in mense gesien. Hy het soms vreemde mense ingeneem om te help. Dit is soos hy was.”
Marius sê dat sy pa nog verlede week ook by hulle op Middelburg was. Hy onthou hoe sy pa kitaar gespeel het saam met die kinders. “Hy het kitaar en mondfluitjie gespeel. Ons pa was by alles betrokke by ons kinders. Hy was op en wakker en het saam met hulle krieket gespeel, geswem, gestoei met hulle en ál hulle sportbyeenkomste bygewoon!”

Volgens Marius is hulle ’n groot familie wat baie vir mekaar omgee. “Sy klein- en agterkinders was só lief vir hom!” en verduidelik hoe hulle almal geruk is deur hul oupa se onsinnige moord.
“Ons pa was ook ’n storieverteller en ons kinders vra nie wie vir hulle al die wonderlike stories gaan vertel.”
Oom Robert en tannie Anna (70) was 55 jaar getroud.
Hy word oorleef deur sy wederhelf Anna, kinders, Mariaan, Rudi, Dirk, Marius, André en Gawie, broer Dirk en susters Dolla, Sarie en Villa.
• Dit is die tweede keer dat die Stoltz-familie ’n geliefde weens ’n wrede moord moes afstaan. Dolla en Sarie het vertel hoe hul broer, Coen, sowat 15 jaar gelede in Villiers (Vrystaat) met pangas doodgekap en sy lyk later in die Vaalrivier gekry is.
• Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie. Marius het aangedui dat sy pa op die plaas begrawe sal word.
