News

Janeke Brink se ouers praat oor ‘seerste seer’

Varkore uit Janeke se tuin sal op haar kissie pryk

Janeke Brink, die sewejarige dogtertjie wat Dinsdag in Meyerstraat dood is toe ‘n trok haar op haar fiets getref het, se pa Jacques en ma Janeke het vanaand hul harte oopgemaak, en gesmeek dat die gemeenskap hulle ondersteun in hul soeke na veiliger strate vir Middelburg se kinders.

Jacques sê dat daar deur die dorp verandering moet kom, om swaarvoertuie van die dorpspaaie, en veral in woongebiede, af te hou.

“Ons begin in Meyerstraat waar my meisiekind dood is, en vandaar eet ons die olifant happie vir happie,” het ‘n gebroke Jacques gesê.

“As ons net een ander kind kan red, is dit reeds ‘n oorwinning” sê Jacques.

Janeke se begrafnisdiens vind eerskomende Woensdag om 11:00 vanuit die PPK Lofdal gemeente in SADC-straat plaas.

Jacques bedank die gemeenskap vir die ongelooflike ondersteuning, en sê dat hy nou vir ander ouers en hul kinders gaan baklei, om nie dieselfde tragedie wat hulle getref het, deur te wroeg nie.

Hy het emosioneel vertel dat die gesin self Janeke se blomme vir haar kiskrans gaan voorsien.

Die varkore, Janeke se gunsteling blomme, sal uit Janeke se eie tuintjie tuis gepluk word.

Hy sê varkore verwelk in die winter, maar dat Janeke s’n blom!

Jacques het versoek dat sy seuns, onderskeidelik nege en tien jaar oud, se name nie gepubliseer word nie.

Beide seuns wat die ongeluk gesien gebeur het, sal langtermyn terapie benodig, en word tans bygestaan deur Pastoor Callie Joubert wat ook die begrafnisdiens sal lei.

Weens die ongekende openbare reaksie op die tragedie, sê Jacques dat inwoners welkom is by die begrafnisdiens, maar nie by die graf nie.

Net familie en nabye familievriende sal by die graf toegelaat word.

Die dorp se harte en hande is oop vir die gesin, en inwoners wil weet waar donasies gemaak kan word, of skenkings afgegee kan word.

Herklaas Taljaard staan tans die gesin by op hul versoek, en donasies en skenkings word alleenlik deur hom hanteer, en inwoners word gevra om hom alleenlik te kontak vir verdere inligting.

Herklaas kan gekontak word by 078 773 2186.

Daar sal ook more op Kosmos Stereo om 09:00 deur Taljaard uitgebrei word oor wat Jacques en ma Janeke wil sien in Meyerstraat moet gebeur.

Jacques sê SANRAL moet spoedwalle oprig in Meyerstraat, om so die trokke te dwing om nie voet in die hoek te sit voor verkeersligte nie.

Daar word veral tussen verkeersligte in Meyerstraat versnel, en daar word gereeld gesien, deur Observer joernaliste self, hoe trokke oor oranje, en selfs rooi verkeersligte jaag, omdat hulle nie kan spoed verminder as verkeersligte oorslaan nie.

Jacques het dit ook duidelik gemaak dat, hoewel die trokke ‘n nagmerrie is, motoriste oor die algemeen ook die verkeersreëls verontagsaam.

Hy sê spoedhobbels sal hulle ook in toom hou.

Die familie het ook intussen ‘n regstelling gemaak met Janeke se naam, wat sy met haar hartgebroke ma deel, nadat ‘n vroeëre huldeblyk haar as Jannika geïdentifiseer het.

Alle berigte is intussen aangepas met dié regstelling.

“Ons kan net nederig dankie sê vir Middelburg se ongelooflike gemeenskap, ons voel gesien en gehoor en geliefd,” sê hy.

Hy sal moontlik binnekort plaaslik ook werk moet soek, “want my seuns het my nodig, ek kan nie weer buiteland toe nie.”

Hy het juis in Turkye gewerk om vir sy gesin te kan sorg en die reis terug Suid-Afrika toe om sy dogter te kom groet, was die uitmergelendste van sy lewe, sê hy.

Janeke is vandag eers formeel uitgeken.

Direkte donasies kan gemaak word aan:

Roseleigh Funeral Home – FNB Tjekrekening – 62073712062 – met verwysing Kind J Brink

Aan die gesin self ook by DJ Brink – Capitec Spaarrekening – 1996468462

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button