KYK: Kanonkop en Dennesig inwoners plant kruis, lê blomme vir Janeke
Waar God sy mooiste blom kom pluk het, lê inwoners nou ’n tapyt van blomme vir Jannika neer.
Daar word sedert 15:00 in Meyer Straat ruikers gelê vir Janeke Brink op die plek waar sy Dinsdag gesterf het.
Inwoners is geweldig geruk deur haar dood nadat sy op haar fiets voor ’n trok beland het.

Twee van haar boeties het vir haar op die middelman gewag, toe die trok haar getref het.
Haar oudste broer het haar liggaam onder die trok uitgetrek, nadat beide seuns gesien het hoe sy getref word.

Die sewejarige Laerskool Middelburg leerling is opslag dood.
Kanonkop DA raadslid Helda de Klerk en haar man Ben, oud skoolhoof van Hoërskool Kanonkop, het ’n houtkruis vir Janeke in die grond geplant, waar inwoners ook ruikers blomme ter nagedagtenis van die blondekop dogtertjie gelê het.

Haar pa het gister uit Turkye, waar hy as kontrakteur gewerk het, in Suid-Afrika geland.
Die gesin vra vir privaatheid en wil nie mense tuis ontvang nie, en daarom is daar besluit om die kranslegging in Meyerstraat te doen, op die plek waar Janeke dood is.
@middelburgobserver ’n Laaste eerbetoon aan Jannika Brink wat Dinsdag voor haar boeties onder ’n trok beland het.
Kanonkop en Dennesig inwoners het op verskeie WhatsApp groepe gevra waar hulle hul ondersteuning vir die gesin kan wys.
In net ’n paar minute langs die pad waar die kruis geplant is, het roubeklaers verstom gestaan oor die aantal trokke wat verby gejaag het.

Videos van die trokke is geneem, en dit was duidelik sodra die selfoon kameras deur die trokdrywers gewaar is, daar skielik gerem word.
Op die klank van die video kan gehoor word hoe trokke verbyry.
Begrafnisreëlings sal binnekort deurgegee word.
