Middelburg groet ‘Moedertjie Botshabelo’
Sy het selfs vir gaste brood gebak voor hul aankoms, en hul kamers verfraai met blomme uit haar tuin...
Daar word vandag afskeid geneem van ‘Moedertjie Botshabelo’ me. Jeannette Fraser, wat jarelank die kurator van Botshabelo was.
Onder haar ysterhand in ’n fluweelhandskoen, soos die Middelburg Observer oor haar merkwaardige kuratorskop in die verlede berig het, het Botshabelo geblom, soos haar pragtuin op die Plek van Toevlug.
Jeannette het voorwaar ’n toevlugsoord vir elke toeris geskep, met busvragte internasionale toeriste wat Botshabelo daagliks besoek het in sy gloriedae.
Dit was sy wat die wêreldbekende Ndebele vroue daar vrye teuels gegee het om hul kultuur in kleur uit te leef, en in die wêreld se glanstydskrifte laat pryk het.
Sy het tot haar afsterwe toe, by die SAVF Tehuis vir Bejaardes in Middelburg tuisgegaan.
Me. Fraser is Sondag in Life Midmed Hospitaal oorlede. Sy was 84-jaar oud.
Haar begrafnisdiens vind vandag om 15:00 by die AP Kerk in Kanonkop plaas.
• Daar sal volgende week wyer in die Middelburg Observer uitgebrei word oor haar merkwaardige lewe. Maak seker jy kry jou volgende kopie van die koerant.
