Frank Krynauw verdien beslis ’n Bell’s!
Hy het vanoggend ’n nutstrok gewaar waar die insittendes verskeie groen Wheelie-asdromme digby die Middelburgdam op ’n grondpad, onwettiglik aflaai.
Frank het dadelik by die grondpad afgedraai en die rommelstrooiers gekonfronteer.
Hy het aangedring dat hulle die rommel optel, maar daar is vir hom gesê hulle het klaar afgelaai en gaan nou ry.
“Ek het vir hulle gesê julle gaan nêrens, julle sal skoonmaak,” sê Frank.
Die morsjorse het hulle egter nie aan hom gesteur nie, in die nutstrok gespring en met die wegjaag amper Frank se bakkie gestamp.
Karma is egter ’n ding wat jou aan die bas byt.
Frank het vinnig in sy bakkie gespring en is agterna.
Sowat 5km buite die dorp het ’n paar van die groen asdromme van die nutstrok af gewaai, en Frank is met sy eie bakkie oor so twee of drie.

“Hulle moet maar vir die dromeienaars verduidelik waarom die dromme flenters is,” sê Frank.
Met dié dat die dromme by die nutstrok afgewaai het, moes die bestuurder van die bakkie stop.
Hy het egter vinnig die bosse ingevlug, terwyl ander insittendes die dromme wat gered kon word, in die straat gaan haal en weer op die nutstrok gelaai het.
Intussen het die eienaar van die nutstrok daar opgedaag, en gesê dat hy gesien het op sy opsporingsisteem dat die bakkie staan.
Frank vermoed egter dat die drywer die nutstrok se eienaar geskakel het.
@middelburgobserver Men caught dumping illegally at Rondebosch amid solid waste strike, resident makes them pick it up again.
Frank het by die eienaar aangedring dat hulle terugry na waar die rommel afgegooi is, en dat elke liewe papiertjie opgetel word.
Die eienaar het vir hom gesê dat hy sal toesig hou en dat Frank maar weer kan ry.
Frank het egter nie gebyt nie, en self gestaan en kyk hoe die menere die rommel optel en weer teruggooi in die dromme om dit aan te ry asgate toe.
“Partymaal moet mens maar jou voet neersit,” sê Frank, wat bylas “ek is maar so grootgemaak.”
Hy sê die eienaar en die rommelstrooiers was maar nukkerig, maar het nietemin skoongemaak waar hulle besoedel het.
Frank sê dat daar vir hom vertel is dat die rommel uit Eastdene af aangery is.
Die manne in die bakkie maak glo R230 per drom wat hulle leegmaak vir die dromeienaars.
En wat die dromeienaars nie sien nie, maak sekerlik nie hul harte seer nie.
Volgens Frank was daar sowat R3000 se vullis op die nutstrok, volgens sy somme, gemeet aan die vrag rommel.
Met die staking steeds aan die gang by die munisipale vullisdepartement, kan inwoners meer onwettige rommelstorting verwag.
Frank sê egter dat inwoners moet saamstaan, en doen wat reg is.
“As ek gery het, sou die gemors net so bly lê het,” sê Frank.
