Dié Japie gaan Cravenweek spelers trommeldik huistoe stuur…
Die Cravenweekspelers moet maar baie sakgeld Middelburg toe bring!
Almal is dit eens, Hoërskool Middelburg se nuwe kafeteria – Die Japie – kort nog net één ding, ’n Michelin ster!
Die Japie, die nuutste toevoeging tot Hoërskool Middelburg se spoggronde, is Vrydagaand bekendgestel aan onderwysers en beheerliggaamslede van die skool as eregaste.

Die Japie sal met die afskop van die Cravenweek amptelik open.
Beheerliggaamsvoorsitter, Jaap Beyers, sê dit is ’n ongelooflike voorreg om na vier jaar se droom, kopkrap en bloedsweet, Die Japie aan Middelburg bekend te kan stel.

Die bekendstelling is ook net betyds vir die prestige skolerugby Cravenweek en Akademieweek, met die Cravenweek wat oor twee weke afskop by Middies.
Beyers sê dit is voorwaar die “kulminasie van spanwerk, kreatiwiteit en deursettingsvermoë wat oor baie jare gevorm en gebrei is,” wat tot Die Japie se gestalte gelei het.

Beyers las by dat almal wat hande gevat het op die projek, dit sien as “genade om sulke treë vooruit te kan gee. Ons glo Die Japie sal vir jare vorentoe vir ons almal baie waarde toevoeg.”
Beyers sê die droom het ongeveer drie jaar gelede begin met ’n oproep van sy kollega op die beheerliggaam, Phillip Mulder.

“Saam het ons begin visualiseer aan ’n studentesentrum wat meer is as net ’n snoepie, maar ’n plek waar kinders in die middag na skool ’n goeie bord kos kan kry en ook kan sit en studeer en huiswerk doen, voor of na sport.”
Dit moes ook van so gestalte wees waar matriekafskeid- en jaareindfunksies aangebied kan word, en waar oudskoliere kan reünies hou.

Die produksiestandaard moes ook so beplan word, dat ouers soggens ontbyt kan geniet, of wegneemetes kan bestel vir die gesin.
Die voormalige skoolhoof, Johan Stronkhorst, het gou saam begin droom, later die personeel en toe is die koeël deur die kerk.

Vrydagaand het Beyers skertsend gesê dat namate die droom op papier gestalte gekry het, hy ingekoop het op een voorwaarde, “dat die kafeteria na my benoem word.”
Inderwaarheid is ‘Die Japie’ se naam soortgelyk aan die Neelsie by die Stellenbosch Universiteit.

Daar is besluit op Japie, soos die skool se spook bekendstaan.
“Nie vernoem na ’n persoon nie, maar na iets wat veel meer vir Middies beteken. Japie is die gees van MHS, die hartklop van die skool, die simbool van trots, tradisie en lojaliteit. Die Japie ís Middies,” sê Beyers.

Dit was egter aan Phillip Mulder te danke dat fondse vir die projek begin inrol het, en padlangs het soveel mense begin help om die droom te bewaarheid.
N
Lauretha du Toit, PJ en Amanda Mitchell, David en Annette Mclean.“Mag die spanwerk en kreatiwiteit wat ons hier gebring het nog vir baie jare ons skool en gemeenskap dien,” sê Beyers.
Met die opgraderings vir die Cravenweek het die ideale geleentheid ontstaan om hierdie visie tot lewe te bring.

Middies se personeel en beheerliggaam is Vrydag trakteer met ’n lintknip seremonie om ’n voorsmakie te kry van wat die nuwe kafeteria die skoolgemeenskap en die ander provisies se rugbyspelers gaan bied.
En al woord wat dit kan beskryf is ’n toonkrul ‘LEKKER!’.

Twee bekende name, Natalie Moller van Rond-om-Talie en Mariny Krugel van The Easy Life, sal die fasiliteit bestuur en verseker dat leerders en ouers daagliks voorsien word van heerlike happies en gesonde etes.
Met hulle kundigheid en toewyding is Die Japie gereed om ’n warm en smaakvolle bydrae tot die Middies-ervaring te maak.
Met die afskop van die Cravenweek open Die Japie amptelik sy deure.
Almal is welkom om die hartklop van Middies – warm, verwelkomend en vol gees – te gaan ervaar, en sommer ’n paar kookwater rugbywedstryde van die land se beste skolespelers te gaan geniet.
