News

KYK: ‘Aan sulkes behoort die koninkryk…’

Erewag vir Janeke.

’n Stampvol kerk het vandag met loodswaar harte afskeid geneem van die sprankelende blondekop blou-oog Janeke Brink wat verlede Dinsdag dood is in Meyerstraat.

Die diens is waargeneem deur pastoor en nooddienste kapelaan Callie Joubert vanuit die PPK Lofdal gemeente waar pastoor Joubert ook prediker is.

Hy het vandag tydens die begrafnisdiens gesê dat dit vir hom ’n bittersoet voorreg was om Janeke se familie, insluitende haar twee broers van onderskeidelik nege en tien jaar oud, op die ongelukstoneel te kon bystaan, en ook daar vir hulle en nooddienswerkers te kon bid.

@middelburgobserver

Janeke Brink se begrafnisdiens het vanoggend by die PPK Lofdal Gesinskerk plaasgevind.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Sy boodskap vandag was uit Psalms 73:25 – 28, wat lees: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.”

Janeke Brink se kissie.

Pastoor Joubert het aan Janeke se gebroke ouers en broers gesê dat God nie ver van hulle is nie, maar naby, en dat dié boodskap juis in tye van trauma en hartseer weergalmend tuisgebring word.

Hy het gesê dat begrafnisgangers vandag gekonfronteer is met God se plan, en God se wil, en dat Janeke met haar tragiese dood, ’n plan van God bereik het wat sy dalk in lewe nie sou kon doen nie.

Joubert het gesê dat, “Janeke se eerste verwelkoming van God, haar laaste asem was.”

Jacques Brink word by die kerk ondersteun.

‘Aan sulkes behoort die koninkryk,’ het hy uit die Bybel aangehaal.

Hy het aan ouers Jacques en Janeke gesê dat, “so lief soos julle jul dogter gehad het, so lief het God vir julle.”

@middelburgobserver

Fatman deel ’n spesiale boodskap aan Janeke Brink se familie.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Janeke se jongste boetie het ontroosbaar gehuil toe die diens afgesluit is met ’n pragtige skyfie-vertoning op die kerk se grootskerm.

Die boeties het beide ook die kerk uitgestap langs Janeke se wit kissie waarop haar gunsteling teddiebeer in ’n pragruiker van varkore gepryk het.

Die varkore vir die kiskrans het uit Janeke se eie tuintjie tuis gekom.

Begrafnisgangers het erewag gestaan toe haar kissie na die graf vervoer is.

Die diens is afgesluit met ’n roerende gedig deur haar ma Janeke, voordat die familie graf toe vertrek het, waar net familie en nabye familievriende toegelaat is.

Die bekende sanger Fatman, oftewel Johan Brummer, het in ’n video-boodskap aan Janeke en haar familie gesê dat Janeke nou in die hemel dans.

Hy was haar gunsteling sanger en sy liedjie ‘Dorp Toe’ het Janeke altyd aan die dans gehad.

Janeke se boodskap aan haar dogter:

My babatjie, my klein fyn grootoog blondekop prinses, mamma was so geëerd om jou as ’n meisiekind te kon hê, dis moeilik on te besef dat jy vir mamma net hierdie kort rukkie geleen was. Maar die Vader het jou nodig, al voel mamma dat ek jou méér nodig het. Jy was die kleinste mensie met die grootste hart, so bitter baie lief vir amal, altyd geglimlag en jou giggels! Ek gaan dit so verlang. Dis moeilik om hier te staan en voor almal te sê wat jy vir my beteken het, want woorde kan dit nie eens beskryf nie. Al wat mamma voel is hartseer en ’n hele deel van mamma is saam jou die dag toe die Vader jou kom haal het. Die Vader het gesê as hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels. Jy was ’n pêrel so fyn, so mooi, so perfek. Mamma wens ek kon jou vir altyd vashou in my arms. As mamma se verlange te veel raak dan bid mamma en vra dat die Vader jou styf vas sal hou, en jou sal sê hoe lief mamma, pappa en jou boeties jou het. Hierdie is nie Totsiens nie my baba, hierdie is tot mamma jou weer sien. Love, love, love you lots, like Jelly Tots.

Lees meer in die week se Middelburg Observer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button