News

‘Die Here het Bere self kom haal’

’n Welbekende oud-polisieman van Middelburg is gisteroggend oorlede.

Bere de Beer (66), die man wat ’n besondere verhouding met sy Meester gehad het, is gisteroggend kort na ’n hartklepvervanging in die Wilgers Hospitaal oorlede.

“Ek is baie hartseer, want ons het dit nie verwag nie, maar ek is nie wanhopig nie, die Here het hom self kom haal,” het sy vrou, Nicoline vanoggend gesê.

Nicoline onthou hoe hulle nog grappies gemaak het voor die operasie Woensdagaand en saam ‘selfies’ geneem het.

“Hy wou hê ek moes vroeër ry, omdat dit donker geword het, maar ek het vir hom gesê ek ry nie alleen nie, die Here is saam met my.” Sy het hom gesalf en was saam met hom tot hy teater toe gestoot is.
Sy het kort-kort geskakel en is sy na middernag laat weet dat die operasie verby is en dat hy gestabiliseer is.

Donderdagoggend is Nicoline laat weet dat Bere ’n hartstilstand gehad het en dat die dokters besig is met noodbehandeling.
“Ek het dadelik begin bid en die Here gevra vir hulp…”

Op pad hospitaal toe, het sy die oproep gekry dat hulle sy hart drie keer geskok het, maar dat hulle hom nie kon bybring nie. Hy het gesterf terwyl hulle vir sy lewe geveg het.

“Daar was ’n eerbiedigheid in die intensiewe eenheid toe ons daar kom, ’n heilige stilte. Bere het so mooi gelyk. ’n Suster het vir my gesê dat wanneer iemand sterf wat die Here ken, kom haal engele hulle nie, maar die Here, en dit is presies wat gebeur het. God self het hom kom haal. Die Here het bepaal dit is sy tyd.”

Sy onthou hoe familie aangebied het dat sy en Bere vir ’n ruk na ’n plekkie in Witsand toe kan gaan sodat hy heeltemal kan herstel van die operasie.
“Ek het nog vir hom Woensdag gesê, ek glo hy sal so Saterdag se kant uit die hospitaal uit kom.”

Bere, of soms Beertjie ook genoem deur vriende en kollegas, was vir jare bekend in Middelburg.

Hy was 35 jaar ’n polisieman, waar hy eers vir die Suid-Afrikaanse Narkotikaburo (SANAB) gewerk het. Toe hierdie eenheid ontbind, is hy oor na die speurtak waar hy tot met sy aftrede as kaptein diens gedoen het.”

Nicoline het Bere beskryf as ’n diep gelowige, nederige man “wat gestaan het in wat hy glo. Hy was ’n regverdige persoon wat ongeregtigheid gehaat het. Bowenal was Bere ’n goeie man vir my en ’n wonderlike pa vir ons kinders.”

Die egpaar sou op 18 Julie 38 jaar getroud gewees het.

Buiten Nicoline, word hy oorleef deur sy seuns, Bernardt en Nico, hul vriendinne Kristen Coetzee en Elré Potgieter, sy pa, Pieter, skoonma Dawn Böning, skoonfamilie en vriende.

• Daar is nog nie finaal begrafnisreëlings getref nie. Die roudiens sal uit die Presence Kerk in Meyerstraat plaasvind. Sodra die reëlings gefinaliseer is, sal die Observer dit op ons webtuiste publiseer.

• Nicoline wil graag haar kinders, asook haar broer en sy vrou, Johan en Isabel, en haar suster en haar man, Renate en JP, asook hul gesinne uit haar hart uit bedank vir wat hulle vir haar doen en beteken in hierdie moeilike tyd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button