News

Man hartseer omdat kleinboet alleen in hospitaal sterf

'n Man se hart is stukkend omdat sy broer alleen in 'n ander dorp gesterf het.

Johan Coetzee kan steeds nie glo dat sy jonger boetie, Deon (46) so skielik oorlede is nie.
“Deon het niks makeer toe ons die laaste keer gepraat het nie. Verlede Woensdag het my vrou, Heidi, ‘n oproep van meegevoel gekry. Ons het nie eers geweet hy was siek nie,” vertel Johan (‘n verpleegkundige by die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal).
Deon het in die Ladysmith Provinsiale Hospitaal in KwaZulu-Natal gesterf. Hulle is in kennis gestel dat hy ‘n epileptiese aanval gehad het en gesterf het weens nagevolge daarvan saam met aspirasie pneumonie (verstikking omdat van sy maaginhoud in sy longe beland het).
Alhoewel hulle mekaar sewe jaar laas gesien het, het hulle elke tweede Sondag met mekaar gesels. Deon was ‘n sekuriteitswag in Ladysmith.
Johan en Deon Coetzee ‘n paar jaar gelede saam afgeneem in Mooirivier.
Die vorige Vrydag het hy Johan hulle laat weet dat hy hulle hierdie keer gaan skakel. Saterdag het hy ‘n boodskap gestuur dat die planne verander het en dat hy hulle Sondag sal skakel. Johan het hom die Sondag aanmekaar probeer skakel, maar Deon het nie geantwoord nie. “Hy moes reeds siek gewees het, dit is hoekom hy nie geantwoord het nie.”
Deon se kamer waar hy in ‘n losieshuis gebly het, het nie ‘n eie badkamer gehad nie en moes hy ‘n buitetoilet gebruik. Johan het later verneem dat Deon die Sondagnag daar die epileptiese aanval gekry het en het die ander inwoners hom eers die volgende oggend (daardie Maandag) op die sementvloer gekry.
“Deon was in ‘n semi-komateuse toestand en het hulle hom op ‘n bankie in die son gesit, omdat hy die hele nag op die koue sementvloer was. Later het hulle hom op ‘n matras gesit, tot die ambulans opgedaag het.”
Hy is na die provinsiale hospitaal geneem, waar hy twee dae later gesterf het.
“As ons net geweet het hy was siek, sou ons ‘n plan gemaak het om hom te gaan besoek in die hospitaal, maar ons het nooit geweet nie. Deon het alleen gesterf…” het Johan hartseer gesê.
Deon was een van vier broers en was hy en Johan baie na aan mekaar. “Hy was my kleinboet, ons het oor alles gesels, hy was my geskiedenisboek!” Hulle het grootgeword in Moorivier en onthou hy hoe lief Deon vir die dorp was. “Hy sou enige tyd weer teruggaan soontoe.”
Johan meld dat Deon op ‘n stadium by hom in Middelburg gebly het, maar sewe jaar gelede getrek het na Ladysmith, toe hy die pos as sekuriteitswag gekry het. “Hy was so trots op sy werk. Hy was die beste sekuriteitswag ooit!”
Deon was trots op sy werk as sekuriteitswag.
Hy beskryf Deon as ‘n saggeaarde, lojale mens. “Hy was die watchdog van ons broers! Ek en hy het mekaar so mooi verstaan. Daar was niemand op aarde soos hy nie. Ons het alles gedeel. My hart is gebreek.”
Buiten Johan en sy skoonsuster, Heidi, word Deon ook oorleef deur sy ander broers, Andre en Tobie.
* Johan het gereël dat Deon se oorskot na Middelburg gebring word, sodat hulle hom hier kan begrawe. “Deon het ons altyd laat belowe dat ons hom nie sal laat veras nie, maar sal begrawe.”
Deon het nie ‘n begrafnispolis gehad nie. “Ek weet ‘n mens moet daaraan dink, maar hy was so jonk!”
Johan sê daar is nie fondse vir die begrafnis (vervoer van daar tot hier ingesluit) wat R18 500 beloop nie. “Ons het ‘n BackABuddy profiel probeer, maar daar is egter net te min tyd. Ons het al R3 500 bymekaar gemaak, maar dis nie genoeg nie.”
Dis vir hom baie moeilik om vir hulp te vra en sê dat selfs klein bedraggies welkom sal wees.
Die begrafnisdiens is Dinsdag om 14:00 by die Kapel by die krematorium in Samora Machelstraat. Vandaar sal hulle vertrek na die Rondebosch begraafplaas.
Persone wat bydraes wil lewer, kan Johan skakel by 082 936 9836.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button