News

Trok bars deur muur, kom teen huis tot stilstand

'n Trok het vanoggend deur 'n betonmuur gebars by 'n huis en teen die sitkamermuur tot stilstand gekom.

Die Roos egpaar is vanoggend met ‘n harde slag en brekende glas wakker geskud in hul huis in Erembeestraat (Mineralia).

Me. Corrie Roos vertel dat sy omstreeks 03:00 gou badkamer toe is en weer terug is bed toe. Sy het net ingesluimer toe sy omstreeks 03:15 ‘n harde slag hoor.

“Ek het glas in ons kamer hoor breek en vir Peet (haar man) geskree om weg te kom van die venster af.”

Hulle het buite gaan kyk wat aangaan en gesien die slag was toe ‘n trok teen die sitkamermuur aan die buitekant te lande gekom het. Hul kamervenster het waarskynlik gebreek toe die lopende trok se spieëltjie die geute aan die kant van die huis afgeruk het.

‘n Geut en die hoofslaapkamervenster het in die slag gebly. FOTO: Daleen Naude.

Mnr. Khuliso Tshatsinde het ‘n skouer en beenbesering opgedoen toe hy die lopende trok probeer keer het en is per ambulans hospitaal toe geneem, waar hy na behandeling ontslaan is.

Hy meld dat hy vroeg opgestaan het om te gaan werk, maar toe hy hul huis se voordeur oopmaak, het hy gesien dat die trok vanself begin loop vanaf hul huis in Hoogstraat in die rigting van hul bure se muur in Erembeestraat. Hy het die trok probeer stop, maar hy is weggestamp en het die skouer en beenbesering opgedoen.

Die trok het dwarsdeur die muur gery. FOTO: Daleen Naude.

Die maatskappy vir wie hy werk het reeds aangebied om vir die skade te betaal.

Die trok het teen 10:00 nog in die erf gestaan, maar is daar aangedui dat daar gereël is om dit weg te sleep.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button