O Vlok! Dit is Oorlog teen Breytie, Bakkies en Brandmuller
Daar dreig ’n Munga-stryd tussen Bakkies Botha en Tobie (Oorlog) Oosthuizen.
Voeg Breyton Paulse en die Franse rugby skopafrigter, Vlok Cilliers, by en jy het ’n sport tweestryd wat enige promotor sal beny.
Boonop het verlede jaar se Munga equipe fietsry wenspan die eerste skote afgevuur toe die prokureur van Middelburg, Andre Brandmuller, ’n rooi doek voor die ander spanne geswaai het.
KYK: https://www.facebook.com/100000129042784/videos/pcb.24385113271076302/1027642472845956
Cilliers het eerste reageer en gedreig om ’n “bom squad” in te span, terwyl die Bok vleuel, Paulse, staatmaak op die Enforcer, Bakkies Botha.
Nog skaars het die eerste houe geval toe die man wat in sy speeldae bekend was as Oorlog, Tobie Oosthuizen, ook in die kryt klim.

Daar moet seker die selfde bloed, sweet en trane as in rugby wees in die Munga, ’n fietstog van 1130 kilometer, vanaf Bloemfontein na die Kaapse Wynlande.
Verlede jaar het die Bok voorry, Jannie du Plessis, in trane vertel watter wipwarit van emosies hy deurgemaak het tydens die “Toughest race on earth”, soos die fietswedren bekend staan.
Vanjaar gaan ’n Toks&Tjops span in die aflos, die equipe, ry vanaf 26 November tot 1 Desember 2025. Elke span bestaan uit vyf lede.
Dit is ’n uitmergelende tog waar groot manne en vroue knak teen die wind, klippe, stof, berge en bulte.
Op die einde is alles deel van een reuse liefdadigheidspoging vir sommige van die spanne, terwyl die individuele bergfiets ryers tot die uiterste getoets word.
Die laaste paar jaar het Brandmuller se spanne, bekend as die Care Riders, geld ingesamel vir die Middelburg Care Village, wat onder geweldige finansiële druk is.

Daar is vanjaar weer drie Care Rider spanne.
Cilliers is kaptein van die VlokSkop-stigting se span en Paulse ry voor vir Toks@Tjops.
Oosthuizen besluit nog vir watter liefdadigheid hulle gaan trap.
Dit lyk asof die Munga ’n groot aantrekkingskrag vir rugbyspelers is.
Verlede jaar het die gewese Bok slot en deesdae pastoor, Jannes Labuschagne, die wedren voltooi en Bertus Dreyer, wat vir die destydse Suidoos-Transvaal uitgedraf het, het saam met Du Plessis tot op die einde getrap in die individuele uitdaging.
Daar sal seker ook vele oomblikke van humor in die Munga wees, met die televisie persoonlikheid, Hammie Wessels, wat saam met die Bokbelaaide span van Toks&Tjops gaan swoeg.
Al wat kort om die speke met ’n vol maag vanaf Bloem tot in Wellington te laat sing, is Toks&Tjops se bobaas sjef, Vaatjie, oftewel Tommy Dickson.
Kyk na die videos waar die spanne mekaar uitdaag.
Oorlog Oosthuizen het laat weet dat hy eers wag totdat die stof gaan lê voordat hy op die uitdagings reageer.
Die spanne is:
Care Rider een:
Corné Ferriera, PC Nell, Willie van Straaten, Juan van Niekerk.
Care Rider twee:
Andre Brandmuller, Paul Longuiera, Johan Odendaal, Muzi Khumalo, Johan Moller.
Care Riders drie:
Catherine Juon, Mike Blenkinsop, Jen Blenkinsop, Lukas van Rooyen, Christine Wentzel.
DC Cycling (Tobie Oosthuizen) span:
Franco Oosthuizen, Mark Till, Otto van Dussen, Tobie Oosthuizen, Riaan Jonker.
Vlok Cilliers span:
Jannie Goossen, Willem Mouton, Burger Coetzee, Ian Jordaan, Frans van Niekerk, Cobus Kritzinger, Corné Klem, Brian Devenish, Hennie Bosch.
KYK: https://www.facebook.com/100000129042784/videos/pcb.24385113271076302/1513374509639540
Toks&Tjops se span sover bekend:
Bakkies Botha, Breyton Paulse, Hammie Wessels.
KYK: https://www.facebook.com/100000129042784/videos/pcb.24385113271076302/579137478564577
