Vriendelike verkoopsman sterf by sy ma se huis
’n Vriendelike verkoopsman is Saterdagoggend dood in sy ma se huis gekry
Ruwaan Jordaan (33), die verkoopsman by BT Boeke wat met sy groot glimlag almal altyd oorrompel het, is Saterdagoggend dood in sy kamer by sy ma se huis in Kameeldoringstraat, Kanonkop, gekry.
Sy beste vriend, Johann Greyling (eienaar van BT Boeke) het namens Ruwaan se ma, Yerma, gesels oor die hartseer omstandighede rondom sy dood.

Ruwaan het gesterf weens ’n oordosis dwelms en wil beide Ruwaan se moeder en Johann graag met die bekendmaak daarvan ’n boodskap aan ander verslaafdes en hul families bring. ’n Boodskap dat daar wel hulp is vir enige verslawing, nie net dwelms nie, die verslaafde moet net vra.
Vir families van verslaafdes is gesê dat as hulle wonder of die persoon gebruik, dat daar tipiese tekens is waarna uitgekyk kan word, soos skielike aggressie, leuens en eetversteurings.
Dit is egter nie die dwelms wat eerste in hul koppe opkom as hulle aan Ruwaan dink nie, maar Ruwaan se besondere omgee-geaardheid. ’n Diep gelowige, talentvolle jong man wat altyd uitgereik het na ander en graag sy lewe wou verander.
Die gesin is nog besig om begrafnisreëlings te tref en sodra dit beskikbaar is, sal ons dit publiseer.
- ’n Meer volledige huldeblyk oor Ruwaan sal in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.
