News

Die dag toe die steenkoolouens die WP geskok het

Wat is dit met Suidoos-Transvaal se rugbyspanne en die Westelike Provinsie?

In 1983 behaal die ou Suidoos-Transvaal die grootste rugbyskok in die land se geskiedenis toe hulle die sterbelaaide span van die WP op Witbank met 24-19 in ’n Lionbeker wedstryd klop.

Die WP was in 1983 Curriebeker wenners en het ’n Wêreld vyftiental geklop, voordat hulle ook met ’n Res van Suid-Afrika afgereken het die Dinsdag voor die Suidoos wedstryd.

Gister is die geskiedkundige oorwinning van die Suidoos-Transvaal Hoërskole span by die 1986 Cravenweek in Graaff-Reinet teen die WP weer deur Chaka Willemse en Carel Greeff afgestof.

’n Foto van Suidoos-Transvaal Hoërskole span by die 1986 Cravenweek in Graaff-Reinet. Foto: Tobie van den Bergh.

Hulle woon ook die Cravenweek op Middelburg by.

Die Suidoos span is geen kans gegee om te wen nie, maar het uiteindelik met 19-12 geseëvier.

Hulle het Boland in die eerste wedstryd geklop en daarna met die Oostelike Provinsie afgereken, wat die Vrystaat geskok het.

Willemse het slot gespeel en sê hy onthou toe hulle so verby die hoofpawiljoen stap is daar half neerhalend gesê: “En hier kom die ouens van die steenkoolvelde.”

Greeff het die dag saam met Paul Maritz senter gespeel. Maritz was ’n ster losskakel vir Hoërskool Middelburg.

“Wat die ouens nie geweet het nie, is dat die meeste van daardie span se spelers in 1981 vir die Suidoos laerskole by die Cravenweek op Worcester in aksie was.

Chaka Willemse by die 1986 Cravenweek in aksie. Foto: Verskaf.

Ironies was Jorrie Jordaan die laerskole span se afrigter. Hy was ook die agsteman toe Suidoos met die WP afgereken het in 1983.

Die spanbestuurder was Abe Pansegrouw van Laerskool Middelburg.

Die span is afgerig deur die legendariese “rugbytweeling” Hennie en Bennie of Fenna en Benna, Hennie Fensham en Ben de Klerk. Hulle was ook vir Hoërskool Middelburg se sukses verantwoordelik.

Dit was die jare waar wyle Dolf Rossouw saam met Sakkie Meyer langs die veld uitgekamp het om sy seun en latere Noord-Transvaal en Puma flank, Francois, te ondersteun.

Spelers wat vir die 1986 span uitgedraf het was Werner van Rooyen, Paul Maritz, Rodney Mitchell, Polla Steenkamp, Nico Schoeman, Shaun Palmer, Kobus van Deventer, WA van der Merwe, Jimmy Hibbert, Christo Laubscher, E Steyn (Naam onbekend), Chaka Willemse, JA Lensley, Boetie Swanepoel, Deriek Bere Botha, Freek Carelse, Pieter Boshoff, Francois Rossouw, Carel Greeff, Lukas Swart.

Die Suidoos-Transvaal span wat die WP in ’n Lionbeker wedstryd in 1983 geklop het was: Harry Muller, Frank Sullivan, Wimpie van der Westhuizen, Steve Meyer, Kallie Grobler, Gert la Grange, Klasie la Grange, Jorrie Jordaan, Hendry van Tonder, Terence Moll, Bertus van Eeden, Vleis van Zyl, Nan Broekman, Richard Cooke (k), Jan Loubser. Plaasvervangers: Les Lachenicht, Johan Pieterse.

WP: Colin Beck, Carel du Plessis, Wilfred Cupido, Chris Smit, Frikkie Ebersohn, Michael du Plessis, Divan Serfontein (k), Nick Mallett, Theuns Stoffberg, Hennie Bekker, Andre Markgraaff, Rob Louw, Attie Strauss, Shaun Povey, Henning van Aswegen. Plaasvervangers: Freddie Ferreira, Graeme Dukas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button