Excellent geen piesang met die fluitjie
Excellent Mnkomo is vanmiddag in beheer van die kragmeting tussen Boland en die Westelike Provinsie.
Op die veld waar hy nege jaar gelede sy eerste rugbywedstryd as skeidsregter hanteer het, is Excellent Mnkomo vanmiddag in beheer van die hoofwedstryd by die FNB Cravenweek op Middelburg.
Min mense weet Excellent se van is eintlik Mnkomo omdat hy op sosiale media bekend staan as Excellent Piesang.
Talle van sy vriende noem hom ook eerder Piesang.

Die oudleerling van Laerskool Rietkuil en Hoërskool Kanonkop het ’n lang pad gestap van daardie o/14A wedstryd tussen Hoërskole Wesvalia en Hoërskool Middelburg.
Hy het in 2015 begin blaas en in 2016 sy eerste volwaardige vyftienman wedstryd hanteer.
Excellent het al meer onder die aandag van die Mpumalanga skeidsregtersvereniging gekom met briljante hantering van Puma klubwedstryde.
Een na die ander toekenning het gevolg en uiteindelik het hy sy pad oopgeblaas na die hoogste vlak.
Nadat hy na Groblersdal verhuis het om by die personeel van Hoërskool Ben Viljoen aan te sluit, as onderwyser, het hy lid geword van die Limpopo skeidsregters en is vroeër hierdie jaar op die nasionale paneel gekies. Op 21 Februarie 2025 blaas hy sy eerste Varsity skild wedstryd tussen Sol Plaatjie Universiteit en CPUT in Kimberley.

Nou is Piesang vanmiddag in beheer van die groot stryd tussen die twee buurmanne, om 14:30.
’n Kragmeting waarvoor rugbyliefhebbers hulle lippe aflek omdat die nuwe wonderkind van Suid-Afrikaanse rugby, Markus Muller, vir die WP uitdraf.
• Toegang is net R50.
