Die who’s who van Suid-Afrikaanse rugby is die afgelope week by die Cravenweek opgemerk. Die suksesvolle week word by Hoërskool Middekburg aangebied.
Die president van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie, mnr. Mark Alexander, was natuurlik self Maandag op Middelburg om die week amptelik te open.
Ander bekende rugbymense wat die week bywoon is:
Rudolf Straueli, die uitvoerende hoof van die Leeus Rugby-unie wat langs die veld was toe sy span naelskraap teen die Blou Bulle gewen het.
Die vriendelike en joviale Hugo van As wat byna honderd wedstryde vir die Leeus senter gespeel het en bekende afrigter van Wits se Varsity-beker span.
Gunder Williamson wat vir HTS Middelburg in die voorry gesak het en later vir die Valke gespeel het en die Blou Bulle met onderskeiding in die Super12 verteenwoordig het.

Die hoofman oor honderd en leier van die impi, Chaka Willemse. Willemse was ’n legende op die Johan van Riebeeck-stadion waar hy as kaptein van die Pumas voor gevat het. Na wedstryde het hy en sy span om die veld gedraf en sopnat gesweet voor die hoofpawiljoen handtekeninge uitgedeel.
Die gewese Middelburg en Puma slot, Luan Veltie Velthuizen, het gesê hy beplan om die week Donderdag by te woon.
Oupa Mohoje, Vrystaat en Bok losvoorspeler.
Springbok keurder James Stoffberg wat Suidoos-Transvaal afgerig het en sy tande as afrigter geslyp het by die Pukke.
Joernalis Hannes Nienaber wat met sy skolesport webblaaie bekend geword het.

Mthunzi Karl Mabeta, of Fudge soos hy bekend staan. Die gewese Blou Bulle slot wat met sy byna twee meter toeskouers vermaak het as aankondiger. Mabeta is een van die sterre van Cravenweek 2025 met sy kwinkslae en beskrywing van wedstryde. Die SuperSport omroeper het gister toe ’n skepdoel onder deur die pale trek laat waai met: “Ladumaaa…”.
Die week word vandag voortgesit met toeskouers wat net R50 betaal vir toegang. Daar is ’n verskeidenheid kosstalletjies en ’n cafeteria met die lekkerste eetgoed.
Die WP is die groot gunstelinge om die Haaie vanmiiddag te klop en Saterdag in die hoofwedstryd teen die SWD te speel. Die Streeptruie lyk onstuitbaar maar enigiets kan natuurlik in skolerugby gebeur.
Vandag se program is:
10:00 Boland vs Valke.
11:30 Luiperds vs Griekwas.
13:00 Grens vs Oostelike Provinwsiie.
14:30 Haaie vs WP.
