Werksvoertuig op gestremde parkering was om 85-jarige vrou uit te help
Talle mense het kommentaar gelewer op ’n werksvoertuig wat op ’n gestremde parkering gestop het, maar dit was om 'n bejaarde vrou uit te help.
C&K Boilermaking se bakkie is vanoggend afgeneem op die gestremde parkering by die Middelburg Mall en is die bestuurder van die voertuig ’n ‘idot’ genoem.
Die plasing is gemaak op die Middelburg Observer se Facebookgroep deur ’n leser.
Die bestuur van C&K Boilermaking het in antwoord daarop gesê dat die bestuurder van die voertuig wel daar gestop het, maar dit gedoen het om ’n 85-jarige vrou, wat nie kan loop nie, te vat om haar inkopies te gaan doen.
Daar is gemeld dat die vrou elke Donderdag dorp toe geneem word met een van hul voertuie, waarna die drywer van die bakkie haar dan in die parkering uithelp tot in haar mobiele karretjie sodat sy verder self oor die weg kan kom.
Hulle het dit duidelik gestel dat hulle mense se frustrasies verstaan oor motoriste wat kwaadwillig op gestremde parkerings stop. Daar is egter ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen dat hulle eerder inskakel na die besigheid toe (die naam was duidelik op die deur) om hulle te vergewis of dit wel kwaadwillig gedoen is.
