As daar ’n jaar terug ’n fliek gemaak sou word oor die 2025 Cravenweek kon dit gewees het “Mission Impossible”.
Wanneer die week more afsluit sal daardie fliek se naam verander na “Mission Accomplished”.
Selfs Steven Spielberg sou geglimlag het oor die draaiboek.
Daar was kommandowurms wat van Dennesig af marsjeer het, geboue wat opgerig moes word, geel verdorde gras wat moes groen en geld wat daar nie was nie.
Toe die vorige hoof van Hoërskool Middelburg, mnr. Johan Stronkhorst, die beheerliggaam inlig dat ’n afvaardiging van Suid-Afrikaanse Rugby die skool wil besoek om die fasiliteite te evalueer, was dit nog amper soos voor die Skepping.
Nie woes en leeg nie, maar daar was nog ’n mediakamer wat ingerig moes word, ’n kafeteria moes op, kleedkamergeriewe vir skeidsregters en top mediese geriewe en ’n onthaalsaal wat deel was van die opgradering.
Die voorsitter van die beheerliggaam, mnr. Jaap Beyers, sê jy kon in die oê van die afvaardiging sien hullle is beïndruk met wat die skool kon bied.
Boonop was daar ekstra druk want SA Rugby het gevra dat die Akademieweek dieselfde tyd aangebied word.
“Ons het boots en all ingeklim.”
Mnr. Beyers sê die skool het dit as ’n uitstekende bemarkingsgeleentheid gesien.

“Ons wou vir besoekers wys Hoërskool Middelburg staan nie terug vir enige top stadskool nie.”
Daar is vooraf besluit die geriewe moet van hoogstaande gehalte wees, die seuns moet lekker eet en lekker slaap, daar moet vermaak wees, die week moet winsgewend aangebied word en die veld kon nie soos ’n tipiese dorre hoëveldse grasveld lyk nie.
“Ons het geweldige groot kosborgskappe gekry, myngroepe het finansieel bygedra en daar was uit alle oorde hulp aangebied.”
Tot die Middelburg Buiteklub het gehelp met ’n grassnyer.
“Die Cravenweek is gebou op uitnemendheid,” sê mnr. Beyers.
Maar om die skip te stuur was daar ’n kaptein nodig.
“Tommy Strydom kan ’n duisend goed op een slag doen en is aangestel as vorsitter van die plaaslike organiseringskomitee.”
Dié oudleerling van Hoërskool Middelburg en kaptein van die dorp se eerste rugbyspan, het hart en siel ingeklim, om die Cravenweek ’n sukses te maak.
Sondagaand voor die week sou begin is die laaste werk afgehandel en kon daar teruggesit word?
Nee, teen Donderdag was sy stem weg van daaglikse swoeg, laataand almal gelukkig hou en vroegoggend kyk dat alles reg is.
Daar moet groot tevredenheid wees, want dit gons van Musina tot Malmesbury oor die groen rugbyveld.
Die veld is alleen ’n storie.

’n Grondkenner se hulp is ingeroep, daar is besluit om kikuyu gras te gebruik en toe is die veld soos ’n babatjie opgepas.
Daar is ’n spesiale seil gekoop met gaatjies in om voeding deur te laat wat in die aande natgemaak en in die oggende afgehaal is.
Die span werkers van Hoërskool Middelburg het drie ure in die aande en drie uire in die oggende spandeer om die veld te versorg.
Alles het onder beheer gelyk toe ’n kommandowurmplaag Dennesig tref.
Strydom het nie op hom laat wag nie en dadelik op al die velde gif gespuit.
Mens kan in jou geestesoog sien hoe het die wurms van Dennesig af marsjeer op pad Middies toe,toe hulle eerder besluit het om by Cowen Ntulistraat om te draai.
“Ons doel was om die veld dieselfde gehalte te kry as Loftus en ander groot rugbystadions. Nou het tot ’n professor van Stellenbosch my gebel om te vra hoe het ons dit reggekry.
Die man wat velde vir Saru uitmeet het gesê die veld is dieselfde gehalte as die een waar die laaste toets gespeel is,” sê Strydom.
Natuurlik sê rugbykenners die veld het die Kaapse spanne bevoordeel wat altyd gesukkel het op die Johan van Riebeeck-stadion se sementblad.
Die veld herinner meer aan die ou Nuweland van WP rugby of Outeniquapark waar SWD hulle rugby speel.
Is dit toevallig dat die WP en SWD more in die eindstryd speel?
“Almal het ingekoop in ons droom,” sê Beyers.
Alle doelwitte is bereik met een van die beste Cfavenweke ooit.
Wanneer die eindfluitjie moremiddag blaas en die son sak oor Cravenweek 2025, kan Jaap Beyers en die span van Hoërskool Middelburg terugsit en tevrede gimliag want: Mission Accomplish.
