Groot Uys laat Stonehouse klein lyk
Die man wat Jimmy Stonehouse klein laat lyk, gooi ook sy groot skaduwee by die Cravenweek.
Die oud Puma voorry, Ronnie Uys, is lid van die Haaie se afrigtingspan.
En natuurlik help hy in die oorlogskamer van die stutte.
Terwyl Chaka Willemse die aanvanklike groot indoena was, het Uys later Puma toeskouers se harte gesteel, op die Johan van Riebeeck-stadion.
Wanneer hy met die bal onder sy arm vasgeknyp op teenstanders afgestorm het, was dit nie soos ’n stormende renoster nie, maar soos ’n trok sonder remme Kranspoort af.
Uys was nie net geliefd onder toeskouers nie, maar ook sy spanmaats.
Sy reuse raamwerk het by vele harte skuilplek gekry.
Nog een van die Puma karakters Veltie, Dozi, Luan Velthuizen, was ook Donderdag by die Cravenweek om sy oud spanmaat te ondersteun.

Stonehouse is natuurlik ’n man wat nie terugstaan wanneer daar spiere gewys word nie.
Toe hy egter saam met Uys afgeneem is, het hy sommer baie klein gelyk.
Die Akademieweek sluit vandag af by Hoërskool Middelburg met die Cravenweek wat Saterdag sy swanesang het.
• Stonehouse is self ’n Suidoos-Transvaal en Puma legende wat nie net op haker vir die Grystruie uitgedraf het nie, maar later ’n gerespekteerde skoleafrigter geword het en tans die Pumas se senior span afrig.
