Inbrake by voertuie met behulp van afstandbeheerde sluitkontroles steek weer kop uit.
Titon Alarms en Sekuriteit waarsku motoriste om maar weer dubbel seker te maak hul voertuie is gesluit voordat hulle die winkels instap.
Die waarskuwing kom nadat twee voorvalle die afgelope twee weke by OK in Jeppestraat aangemeld is.
In die mees onlangse voorval, Maandagaand, is die verdagte toegesluit nadat op-en-wakker karoppassers ’n rot geruik het.
Volgens Titon, is karwagte rondom die OK Foods meer op hul hoede nadat daar verlede week ook by ’n voertuig ingebreek is.
Die eienaar van die voertuig het die inbraak aangemeld, maar niemand het geweet hoe daar by die kar ingekom is nie.
Dit het veroorsaak dat karwagte rondom OK Foods, wat van die beste in die dorp is, en gereeld pluimpies by inwoners kry oor hul diens, ekstra bedag geword het.
Maandagaand het een van die wagte gesien hoe ’n dame uit haar voertuig klim, die voertuig sluit en die winkel instap.

Kort daarna is ’n man wat al vantevore in die parkeerterrein rondom voertuie rongehang het, deur ’n karwag opgemerk.
Omdat die man al vantevore deur die karwagte in die parkeerterrein gesien is, en met verlede week se voertuig inbraak vars in die geheue, het een van die karwagte dadelik die Middelburg Noodroep Radiogroep gekontak.
Marnus Uys, voorsitter van die radiogroep, sê dat die man op daardie stadium net as verdag beskryf is.
Hy het aan die karwag gesê dat hulle nie net op persone wat rondloop kan toesak nie, en dat hulle die man fyn moet dophou.
Minute daarna het die karwag gesien hoe die vrou stop.
Die verdagte, wat naby die vrou se voertuig gestaan het, het nie op hom laat wag nie.
Hy is sekondes later deur die karwag in die vrou se voertuig gekonfronteer.
Die karwag het dadelik sy paniekknoppie gedruk en ook vir Uys laat weet dat die verdagte in die voertuig betrap is.
Uys en radiogroeplede is tesame met Titon se lede uit na die toneel waar die karwagte die verdagte in hul greep gehad het.
Met ’n vinnige soektog is ’n afstandbeheerkontrole op die grond naby die voertuig en verdagte gevind.
Die verdagte moes dit tydens die konfrontasie met karwagte op die grond gegooi het.
Titon het die verdagte onder bedwang gebring waarna die polisie opgedaag en die man gearresteer het.
Weens die vinnige optrede van die karwagte is daar niks tydens die voorval uit die voertuig gesteel nie.
Boewe gebruik hul eie afstandbeheerkontroles om die sein wat voertuie sluit, te blok.
Eienaars dink dan hul voertuie is gesluit, maar dit is nie, en boewe het dan vrye toegang tot die voertuig.
Hulle fokus veral op skootrekenaars en goed soos selfone, handsakke en beursies, wat in voertuie agtergelaat word.
Om toe te sien dat die voertuig wel gesluit is, is egter nie genoeg nie en Titon maan inwoners om nie waardevolle besittings in voertuie te los nie.
Die verdagte is intussen as Mduduzi Sibanyoni geïdentifiseer.
Die 43-jarige Sibanyoni is aangekla van poging to diefstal uit ’n voertuig en het reeds in die hof verskyn.
