Ricardo by kwarriegat gekry!
Die 19-jarige jong man wat Vrydag vanaf sy ouerhuis verdwyn het, is gekry.
Ricardo du Toit (19) is gevind en huis toe geneem.
Ricardo het Vrydag vanaf sy ouerhuis verdwyn in Mineralia nadat hy en sy ma, Marinda Lusse, gestry het.
Sedertdien het hulle onverpoos na hom gesoek en alle leidrade probeer opvolg. Daar is mense wat gesê het hulle het hom in Kanonkop by die Tosca Sentrum gesien en ander het gemeld dat dit gelyk het na Ricardo wat by die Verdoornstraatbrug gestaan het.
Marinda het pas bevestig dat Jacques Swartz haar seun by die huis kom aflaai het. “Ons kan nie genoeg dankie sê nie!”
Jacques vertel dat hy en sy kinders gereeld by die kwarriegat by 4SAI met hul vierwielmotorfietse gaan ry en die jong man Sondag daar gesien het.
Hy het egter vroeër vandag op die Middelburg Observer se webtuiste gesien dat daar gesoek word na Ricardo en het hy dadelik met sy bakkie soontoe gery en na Ricardo gaan soek. Hy het hom opgelaai en hom huis toe geneem.
“Ricardo het vir my gesê dat hy blikkies opgetel en verkoop het en daarmee iets gekoop het om te eet.”
Wat Jacques opgeval het, is hoeveel ander hawelose mense ook daar bly.
- Marinda het dadelik met Ricardo se tuiskoms seker gemaak hy gaan vat ‘n lekker warm bad.
