News

Vergeelde koerantberigte wat in mense se harte voortleef

Joernaliste skryf stories wat iewers in ou koerantargiewe vergeel.

Altans, so dink hulle.

Hulle besef nie dat daardie woorde iewers in iemand se hart vassteek nie.

Iemand se dag opkikker.

In ’n Bybel vir nageslagte bewaar word.

Trots in ’n plakboek pryk.

Op ’n spieëlkas geplak word…

By die Cravenweek, van alle plekke, besef jy die kragdadigheid van jou berigte.

Klein Armand Willemse verdwyn in sy pa Chaka se arms na sy geboorte. Foto: verskaf.

Dit was ’n kort beriggie.

’n Beriggie oor die Puma kaptein, Chaka Willemse.

Willemse wat om die Johan van Riebeeck-stadion op Witbank saam met sy spanmaats draf en daarna handtekeninge uitdeel.’

Die “briefie” was van my laatlam, Armand, wat toe net vier jaar oud was.

Brief aan oom Tjaka Willemse:

Liewe Oom Tjaka.

Oom, ek wil net dankie sê vir Vrydagaand.

Ek en my maatjies het so lekker gespeel, toe julle die Valke gewen het.

Ons het mekaar gejaag en touch rugby gespeel.

Elke keer as ek gehoor het hulle speel die liedjie Puma Woema het ek geweet julle het ’n drie gedruk.

Ons het nie eers geworry nie, want ons het geweet julle gaan wen.

Julle het seker ver gewen?

Toe ons by die huis kom het my pa so baie Puma Woema gesing dat my ma gesê het hy moet end kry. “Ek kry nie Puuumaa Woemaaa uit my kop nie,” was my pa se verskoning.

Toe ek hoor die mense is so bly en julle draf om die veld het ek en my maatjies saam gehol.

Ek wou langs jou draf maar was bang jy trap my flat.

Jy het seker hard gespeel want ek het gesien hoe sweet jy.

Die mense het heeltyd vir jou geskreeu: “Mooi Tjaka!”

Omdat ek die brief skryf oom, is omdat jy so moeg was maar steeds my plastic kolf wou teken. Maar toe my pa se pen nie wou teken nie, het jy sommer in my hand geskryf: “Chaka”.

Is oom se naam nie Tjaka nie?

Die mense skree dan elke keer: “Tjaka!”.

Dit was so lekker by die rugby maar my hart was baie seer toe ons by die huis kom. Ek wou graag vir my ma wys oom het in my hand geteken, maar toe is oom se naam weg.

My pa sê dit is van die touch rugby wat ons gespeel het.

Hy sê ek het net soos oom Tjaka gesweet.

Armand (4).

Armand Willemse saam met sy ma Lydia. Foto: verskaf.

By die Cravenweek gesels Chaka weer oor die beriggie.

“Ek onthou Armand het altyd vir my gesê oom moet my net nie flat trap nie.”

En dan…ek het daardie beriggie uitgeknip en op ’n kas in my huis geplak.

Dit is al 26 jaar gelede.

“Toe my seun gebore is het ek en my vrou oor sy naam gepraat en besluit om hom ook Armand te noem.”

Wanneer jy gaan google verklaar dit: “The name is of French origin and translates to soldier. The name evokes strength and valour.’

Lydia, Chaka se vrou, sê later in ’n e-pos: “Armand is nie ’n bloedfamilie naam nie. Alle eer, dit was God se Almagtige Hand en besluit om Armand vir ons as seëning en geskenk te leen.”

Armand Willemse is op 18 Maart 2004 gebore.

Hy is vandag een van die land se belowendste jong spiesgooiers.

Armand Willemse is een van die land se belowende jong spiesgooiers. Foto: verskaf.

Vandag verjaar Chaka, oudleerling van Hoërskool Generaal Hertzog, bobaas spiesgooier en Puma kaptein vir byna honderd wedstryde.

Hy is 57 jaar oud.

Die groot en gewilde borselkop slot gaan seker baie geskenke kry.

Vir my het hy een van die grootste geskenke van my lewe gegee:

“Armand!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button