Fondse benodig om baba Alexander ‘saggies neer te lê’
Baba Alexander se hartjie het kort na sy geboorte gaan staan, en benodig sy ouers fondse om hom ter ruste te lê.
Die Viljoen gesin doen ‘n beroep op die Middelburg gemeenskap vir befondsing vir hulle babaseuntjie se begrafnis.
Herculaas Taljaard tree namens die gesin as woordvoerder op. Hy is ‘n goeie vriend van Ernest Viljoen, Alexander se pa.
Alexander is gister gebore, en Herculaas was saam met Ernest, of Slim, soos hy deur ander geken word, by die hospitaal.
“Kort na sy geboorte het die dokters vir Slim gesê dat hy Alexander kan gaan sien, maar toe hardloop hulle met hom na ‘n ander kamer toe,” het Herculaas vertel.
Die dokters het daarna met Alexander in ‘n broeikas na die intensiewe sorgeenheid gehaas, omdat sy hartjie kort-kort gaan staan het.
“Toe Slim vir Alexander gaan sien, toe is hy reeds weg.”
Herculaas het verduidelik dat Slim werk, maar dat hulle nie oor die nodige befondsing beskik vir die begrafnis nie.
“Roseleigh Begrafnisdienste hanteer die begrafnis en moet die ouers R9 500 bymekaar maak om Alexander saggies neer te lê.”
Klein Alexander Ernest Viljoen word oorleef deur sy pa Ernest, ma Alta, en sussie Brianna.
‘n Roudiens word op 25 Julie om 11:00 by die PPK Lofdal Gesinskerk gehou.
Persone wat bydraes wil lewer vir Alexander se begrafnis kan vir Herculaas kontak by 078 773 2186.
