Gewas oorsaak dat man se arm breek
'n Reuse gewas is die oorsaak dat 'n bekende sakeman se arm sommer net gebreek het en hy tans bedlêend is.
Hans Fuhri (64), sakeman, gholfspeler en vriend van vele, moet dringend ‘n operasie ondergaan om ‘n gewas te verwyder en ‘n pen in sy arm te sit, maar daarvoor moet hulle nou R150 000 bymekaar maak.
Hans se vrou, Ronalda, meld dat hulle onlangs van een medies na ‘n ander geskuif het en die nuwe mediese fonds nog nie vir die operasie sal betaal nie.
Dit is hoekom Hans, wat vandag geopereer sou word, moes huis toe gaan.
Ronalda vertel dat haar man pal in pyn is en die afgelope paar maande bykans heeltemal bedlêend is.
“Die gewas het vanaf sy nek na sy skouer en arm versprei. Een aand het hy omgedraai en het sy bo-arm net gebreek. Die dokters moet eers die groot gewas verwyder, waarna hulle dan aandag aan sy arm, wat ‘n pen moet kry, kan gee.” Tydens die operasie sal toetse gedoen word om te kyk of dit kwaadaardig is.
Hans se skildklier is meer as 10 jaar gelede verwyder en is daar tydens die operasie ook ‘n gewas verwyder. Ronalda sê hulle vermoed dat daar dalk nog gewasse was wat nie raakgesien is nie.
“Hans het die afgelope paar jaar gereeld gekla van pyn in sy ingewande,” maar hy het nie gedink dit is ernstig nie en het nie verdere toetse laat doen nie.
‘n Paar maande gelede het Ronalda skielik ‘n knop in sy nek gesien, wat binne ‘n kort bestek gegroei het tot so groot soos ‘n tennisbal.
“Dit het afgegroei oor sy skouer en om sy arm. Daar is ook gewasse op die punte van sy longe en op sy lewer.”
Hans kan glad nie sy regterarm gebruik nie en moet Ronalda hom help om te eet en te stort. “Ek hardloop maar heen en weer tussen ons besigheid om seker te maak hy eet en is gemaklik.” Hulle is die eienaars van Autofit Windscreens in Weeberstraat.

“Ons het in ons wildste drome nie so iets verwag nie!”
• Hans se tweede liefde was gholf, maar weens die gewasse kan hy nie meer saam met sy vriende ‘n paar houe op die gholfbaan gaan slaan nie. Hy was vroeër jare ook betrokke by die Rotariërs en was een jaar selfs die Rotariërpresident.
- ‘n BackABuddy profiel is Saterdag gestig met die hoop dat hulle genoeg geld bymekaar sou kon maak vir die operasie, maar op hierdie stadium is daar nog net R600 ingekry. Daar word beplan om R350 000 te in vir al die toetse, operasies en nasorg.
