News

Man sterf na hy val en kop stamp

’n Legende van Middelburg is Maandagoggend dood in sy meenthuis gevind.

Horst Peter, wat op 27 Julie sy 84 ste verjaadag sou vier, is Maandagoggend in sy meenthuis gevind, nadat hy die vorige dag geval, sy kop gestamp en gesterf het.

Sy dogter, Angelika Esterhuizen (wat in Ladysmith bly), en jarelange vriendin, Ray Eksteen (oud-skoolhoof van Steelcrest High School) is nog erg geskok deur die gebeure.

Ray vertel dat sy twee keer per week by Horst ingeloer en dan sommer sy kruideniersware vir hom afgelewer het. Sondae het hulle wegneemetes gekoop en saam geëet.

Sy moes die hartseer nuus aan sy dogter meedeel dat haar pa geval en gesterf het.

Horst se suster en swaer, Renate en Wolfgang Wodangel, bly in Duitsland en kon nie verstaan wat Ray vir hulle probeer sê nie. Angelika het met haar aankoms in Middelburg die middag haar tannie-hulle laat weet dat haar pa oorlede is.

Hy is as jong man vanaf Duitsland na Suid-Afrika en het eers in Ermelo gebly, waarna die gesin meer as 50 jaar gelede na Middelburg verhuis het, waar Angelika ook skoolgegaan het.

Horst het die besigheid HP Diesel in Middelburg begin en was sy werk as uitstekende dieselwerktuigkundige wyd bekend.

Sy harde werk by die Rotariër en Lions organisasies word ook steeds onthou. Angelika vertel hoe haar pa altyd gehelp het om die kersliggies op die lamppale te sit.

As Angelika haar pa moet beskryf, dan sê sy dat hy “voluit geleef het,” en alles waarvan hy gedroom het, aangepak en suksesvol voltooi het. “Hy het vir 10 jaar gevlieg, 10 jaar motorfiets gery en ook 10 jaar diepseeduik gedoen! Hy het selfs gehike vanaf Suid-Afrika, deur Afrika en Duitsland.”

Al was hy die afgelope sowat drie jaar in ’n rolstoel weens ’n mislukte rugoperasie (hy kon wel staan en klein entjies loop), het dit hom nie afgesit nie en was hy nog op en wakker en het gereeld saam met almal gekuier. “Hy het altyd met sy suster in Duitsland gepraat op ‘Teams’, en het vir almal e-posse gestuur!” Dit was vir hom belangrik om op hoogte van alles te bly.

Angelika sê haar pa was ook ’n storieverteller duisend en sy fyn humorsin sal hulle nooit vergeet nie.

Horst het ’n wye vriendekring gehad, waaronder talle polisielede in die dorp. Hy was ’n gewilde kuiergas saam met vriende by die polisiekantien.

Beide Ray en Angelika sê Horst was ’n persoon wat op sy gelukkigste was as hy ander kon help. Dit was ook baie belangrik vir hom dat dinge vlot moet verloop en sy vriende was baie na aan sy hart.

Horst word oorleef deur Angelika, kleinkinders Marnika en Michael Viljoen, agterkleinkinders Tyler Munro (11), Leané-Angie (5) en Keanu Viljoen (18 maande), suster en swaer Renate en Wolfgang, vriendin Ray, peetdogter Jemay Eksteen, en stiefseun Willie Pretorius. (Horst was vir jare getroud met Marié, wat die Marost Galery in Middelburg bedryf het. Sy is agt jaar gelede oorlede).

’n Viering van Horst se lewe word Saterdag om 12:00 by die polisiekantien gehou en Angelika en Ray nooi Horst se vriende om saam met hulle te kom kuier.

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button