News

Oor en weer skietery in Belfast, slagoffer, verdagte gewond

Tydens ’n oor en weer skietery gistermiddag in Belfast is die slagoffer en ’n verdagte, gewond.

Inwoners van Belfast het gistermiddag kort nadat die skool uitgekom het, in hul huise ingevlug toe skote om hul koppe begin klap het voor die Emakhazeni lisensiekantore op die hoek van Boult en Steven Mashangustraat.

Beide die slagoffer en een van die moontlike verdagtes wat raakgeskiet is toe hy teruggevuur het op hulle, is laat gistermiddag na hospitale afgevoer.

Uit inligting wat deurgegee is deur die polisie se provinsiale mediakantoor en verskeie inwoners (wat anoniem wil bly) se weergawes het ‘’n klein oorlog’ voor die lisensiekantore uitgebreek.

“Ek was besig om my kar te was, toe die eerste skoot klap, daarna het nóg skote gevolg, ek dink dit was in totaal omtrent so 10 skote. Daarna het ek gesien hoe ’n VW Polo met die spoed van witlig in die straat afjaag! Van die dwaalkoeëls kon iemand getref het!” het een van die inwoners ontsteld gesê.

Daar is vertel dat ’n man voor die lisensiekantoor gestop het, waarna verdagtes, wat in twee VW Polo’s was, op sy voertuig begin skiet het. Hy het teruggevuur, waarop die voertuie van die toneel af gevlug het.

Omstanders het dadelik gesien dat die slagoffer ernstig beseer is weens skietwonde en het hulle hom in ’n voertuig gelaai en na die Belfast Hospitaal gejaag. Die ernstig gewonde man is kort daarna per ambulans na ’n hospitaal vervoer. (Daar is gevra dat daar nie gesê word waarheen hy vervoer is nie, omdat dit duidelik was dat die groep hom wou doodskiet en sy lewe dalk steeds in gevaar is).

Terwyl die Belfast polisie nog besig was met hul ondersoek ten opsigte van die skietery in die straat, is ’n oproep ontvang dat ooggetuies gesien het hoe twee VW Polos op ’n hoë spoed ingejaag kom by die dorp Laersdrif en injaag het by ’n erf.

Die Laersdrif Polisie het blitsig gereageer op die inligting en die drie verdagtes by die eiendom vasgetrek. Een van die verdagtes het ’n skietwond gehad, wat ’n aanduiding was dat hy moontlik geskiet is tydens die skietery op Belfast. Hy is onder polisiebegeleiding na ’n ander hospitaal afgevoer, waar die verdagte tans onder polisiebewaking behandeling ontvang.

Volgens die provinsiale mediakantoor is daar tydens die arrestasie beslag gelê op ’n wapen en ammunisie en sal ballistiese toetse gedoen word.

Die verdagtes sal na alle waarskynlikheid vandag of more in die hof verskyn.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button