Die oud Suidoos-Transvaal afrigter, Brain Clarke, het altyd gesê “ you can’t play with childs”.
Hy het die geharde manne gesoek soos ’n Polla Fourie, Johan Spies, Piet Cloete, Ben Badenhorst, Martin van Eeden, Boerpens Strydom en hulle maats.
Na die eerste wedstryde in vanjaar se Curriebekerreeks kan mens ook seker sê jy kan nie met kinders oorlog toe gaan nie. Jy kan die wêreld o/20 kampioene in jou geledere hê, maar dit was die hardebaarde wat die ghitaar geslaan het.
Die Blou Bulle se Marvin Orie, Sintu Manjezi, Jeandré Rudolph, Francois Klopper, Lizo Gqoboka, Dylan Smith, Junior Pokomela en Naba Xaba het net te veel skietgoed gehad vir ’n hulpelose Westelike Provinsie, gelaai met sewes Bokke.
Zain Davids kan nou wel ’n sewes ster wees, maar in ‘grootmens rugby’ het hy en sy jong spelers verdwyn.
Die telling van 48-23 vlei die WP wat met aalmoese tevrede moes wees.
Rudolph het gewys dat hy nie net Curriebeker rugby gaan speel nie, hy was briljant. Hy kan ’n groot uitdaging vir die twee beseerde agstemanne Elrigh Louw en Cameron Hanekom bied wanneer hulle terugkeer.
Xaba het beïndruk as kaptein.
- Die Bulle speel Saterdag om 17:10 tuis teen die Haaie.
Die Leeus met net soveel ysters, was ook een te veel vir die Haaie wat met 46-5 sleg slae gekry het.
Soos in die Bulle en WP wedstryd het die Leeus in Jaco Visagie, Morgan Naude, Angelo Davids, Nico Steyn, Rabz Maxwane en Darrien Landsberg net te veel skietgoed gehad.
- Die Leeus speel Saterdag tuis teen die Westelike Provinsie om 15:00.
Die Pumas het Vrydagaand met 49-28 teen Griekwas gewen wat op ’n stadium met net 13 spelers oor die weg moes kom na aanhoudende oortredings en geelkaarte.
- Die Pumas speel Vrydagaand om 19:00 in Bloemfontein teen die Vrystaat.
Die Vrystaters het Sondagmiddag met 37-35 teen die nuwelinge, Boland, in Wellington verloor in ’n spannende wedstryd wat eers in die 88ste minuut beslis is.
- Boland speel Sondag om 15:00 weg teen Griekwas.
