News

Vrou onskuldig van nalatigheid in 2018 botsing wat twee lewens eis

Strafbaremanslag saak sloer sewe jaar, eindig in vryspraak.

Tasmin Jesse Wells is deur die plaaslike streekhof onskuldig bevind op twee stafbare manslagklagtes, nadat sy in Oktober 2018 betrokke was in die grusame botsing wat die lewe van Alet Herbst en dié van haar jarelange huishulp, Linda Lukhele, in Walter Sisulustraat geëis het.

Landdros Deon Minnie het in sy uitspraak bevind dat daar nie genoegsame getuienis teen Wells gelewer is om ’n skuldigbevinding op die klagtes, waarop sy ook onskuldig gepleit het, te regverdig nie.

Vier getuies is deur die staat geroep, insluitende die trokdrywer teen wie se vragmotor Wells gebots het, voordat haar VW Tiguan in me. Herbst se voertuig vasgery het.

Die hof het bevind dat Wells se voertuig klokswys getol het nadat sy liggies van agter teen die trok gebots het.

Volgens Wells was die trok in haar baan voordat sy van agter teen die sleepstang ‘geskraap’ het met haar Tiguan.

Alet Herbst en haar huishulp Linda Lukhele wat in 2018 oorlede is in die botsing.

Drie van die vier staatsgetuies het getuig dat Wells in die aankomende baan ingery het, toe sy bykans trompop met Herbst gebots het.

Almal, buiten die trokdrywer, het egter erken dat dit donker was ten tye van die botsing waarin beide Herbst en Lukhele op slag dood is.

Wells se regsverteenwoordiger, Josef van Eeden, het ’n enkele getuie vir die verdediging geroep.

Gert Louis Jonker het op aandrang van Van Eeden ’n rekonstruksie van die ongelukstoneel gemaak.

Volgens Jonker was daar twee bostings, eers tussen Wells en die trok en toe tussen Wells en Herbst.

Jonker kon egter nie die impakspunt op die trok vasstel nie.

Aldus Jonker is Wells se Tiguan in Herbst se rigting ‘getrek’ na die botsing met die trok.

Jonker sê dat Wells se lugsakke weens die botsing uitgepof het, wat verantwoordelik was vir die feit dat sy tydelik haar bewyssyn verloor het.

Volgens hom was dit die rede hoekom Wells nie regstellende aksies kon neem na die aanvanklike botsing met die trok nie.

Jonker het getuig dat beide Wells en Herbst tydens die botsing tussen 40 en 50km/h gery het, wat die impak van die botsing rondom 100km/h te staan gebring het.

Herbst is met die impak van die botsing uit die voertuig geslinger terwyl Lukhele in die passasiersitplek oorlede is.

Volgens Minnie was Jonker se getuienis ’n redelike weergawe van gebeure.

Hy het bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Wells nalatig was nie.

Die saak het eers momentum gekry nadat Afriforum se privaat vervolginseenheid druk begin toepas het oor die sloerende ondersoek en klagtes teen Wells.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button