’n Slot wat sy eerste proesel rugby as kaalvoet kannetjie by Laerskool Kanonkop ervaar het, is deesdae een van die staatmakers in Boland se Curriebeker span.
Die Wynboere het Sondag ’n dramatiese oorwinning van 37-35 oor die Vrystaat Cheetahs in Wellington behaal, met groot Michael Benadie (25) as een van hulle uitblinkers.
Benadie staan deesdae 1.99m in sy sokkies en laat die skaal op 118 kilogram kreun.
Hy het die afseisoen by sy ouers op Middelburg gekuier en is gereeld gesien waar hy padwerk in die dorp se strate doen.
Na sy kaalvoet dae by Kanonkop het hy vir Hoërskool Middelburg en later vir die Pumas o/20, die IRI (International Rugby Institute), Pumas seniors en Griffons uitgedraf.

Soos enige rugbyspeler is sy groot droom om eendag vir die Springbokke te speel en hy hoop om daardie kans te kry deur een van die verenigde rugby kampioenskap spanne.
Vir eers is sy aandag by Boland wat die eerste keer weer Curriebeker status het.
Sy doelwit is om saam met die span die semi-finaal van die Curriebeker te haal en hy wil ook die droomspan haal wat na die reeks gekies word.
“Ek sal ook graag uitgenooi wil word om by ’ n verenigde rugby kampioenskap span te oefen die jaar.”

Intussen geniet hy die rugbykultuur in Wellington.
“Rugby is groot in die Boland. Die Kavaliers beteken baie vir die mense uit die Paarl en Wellington. Dit moet self beleef word, dit is iets anders. Ons leuse is ’we have a winning mindset and a never say die attitude’.
“Ons wil hoop skep in die gemeenskap.”
Michael het natuurlik sy eie persoonlike juigkommando met die gewese DA Mpumalanga provinsiale leier en deesdae Kaapstad raadslid, Anthony Benadie en sy gesin, wat nie ’n Boland kragmeting misloop nie. Anthony, sy vrou Johan-Lee en seun Xavier reis gereeld van Kaapstad na Wellington. Michael se pa Bernard en Anthony is broers.
Michael is ingesluit in die Boland span wat Sondag om 15:00 in Kimberley teen Griekwas speel.

Vinnige feite:
Gunstelling gereg: Skaaptjoppies en braaibroodjies.
Gunsteling televisie program: Ek het nie ’n gunstelling program nie, maar luister elke dag na ’n potgooi van Joe Rogan en David Goggins.
Musiek: Ek luister na alle musiek, het nie ’n voorkeur nie.
Gunsteling rugbyspan as kind: Haaie.
Engelse sokkerspan: Chelsea.
Rolmodel: Pieter Steph du Toit.
Tydverdryf: Ek is altyd besig om te oefen, in die gimnasium, fiets te ry of om te draf.
