Oog op die oggendverkeer en ander probleme op paaie
Hier is jou inligtingsgreep om seker te maak waar jy ry, is daar nie enige ernstige insidente of obstruksies op die paaie nie.
Verkeer is oral baie druk met Meyerstraat wat toe is vir herstelwerk en dit was ‘n bedrywige aand laasnag.
Meyerstraat tussen Protea en Beyers Naudestraat is sedert gister gesluit sodat die pad reggemaak moet word. Dit veroorsaak verkeersopeenhopings oral in die dorp, omdat alle verkeer vanaf Stoffberg en die oggendverkeer nou alternatiewe roetes moet gebruik.
Inwoners het laat weet dat motoriste egter nou vanaf Proteastraat in die veld in ry en oor die ou Meijersbrug ry en indraai by Brugstraat. Dit is toegemaak met klippe en afsperlint, maar die motoriste het die lint gesny en net die klippe weer geskuif.
“Ek is baie bekommerd, die ou brug kan nie al daardie verkeer dra nie! Netnou sak hy inmekaar!” het ‘n inwoner (wat anoniem wil bly) pas gesê.

Die N11 by Pullenshope is oop vanoggend, maar moet motoriste versigtig ry, omdat daar nog wrakstukke lê van ‘n ongeluk en ander gemors wat op die pad gegooi is met die protesaksie. Die polisie en sekuriteitsgroepe is in die omgewing om die situasie dop te hou.
Daar is gister sporadies op noodgroepe gewaarsku oor die protesaksie op die N11 by Pullenshope.


Gisteraand is ook ‘n trok aan die brand gesteek.

In hierdie tyd was daar direk na mekaar ook twee ongelukke. Eers ‘n trok met twee bakkies wat in mekaar vasgery het, waarna nog ‘n voertuig ‘n rukkie later in die ongelukstoneel vasgery het. ‘n Paar mense is in die ongelukke beseer.

Die N11 tot by Groblersdal is oop. Die stuk van een afbaan wat ‘n ruk toe was weens sakke wat in die pad gestaan het, is oop, maar moet padgebruikers steeds stadiger ry, omdat die padoppervlak daar dalk effens glad kan wees. Daar staan ook ‘n trok half in die pad op die N11 naby Damwal Kompleks.
Geen mis of ongelukke is aangemeld op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) nie. Middelburgers wat eMalahleni toe pendel het net gemeld dat die polisie vroeg ‘n paar voertuie naby die Puma vulstasie afgetrek het om te deursoek.
- As jy weet van enige ongelukke, mis, groot slaggate en ander obstruksies op die paaie wat verkeer kan beïnvloed, skakel of stuur vir ons ‘n WhatsApp (met ‘n foto of video, indien moontlik) na 072 248 3855.
