News

KYK: Geknaag en geteel in Bullerlaan…

En hulle grawe gate soos vlakvarke.

Bullerlaan se naam kan deesdae net sowel Hasiestraat wees.

Die straat is elk geval na die Britse generaal Redvers Buller vernoem. Die Boere het hom na Rooivers Buller herdoop.

Die oulikste hasies, gryses, wittes en swartes, hop-hop deesdae in die straat rond.

Van een Hasie of twee het hulle gou aangeteel na 11 en inwoners het die oulike diertjies aangeneem as hulle eie.

Een het selfs ’n hok in sy tuin neergesit vir die hasies, andere het vrugte en groente gaan koop om die hasies te voer.

Daar was selfs inwoners wat supermark toe is om die nuwe straatbewoners met egte-regte haaskos te bederf.

Toe een inwoner waarsku “sy rotties (rottweiler honde) gaan die hasies opvreet’’ was almal in rep en roer.

Rottie eienaar het vinnig die aftog geblaas.

Toe ’n video die lig sien waar ’n rondloper brak een van die oulike hasies doodbyt, was die gort gaar.

Drie ander hasies is doodgery.

@middelburgobserver

Dennesig, in Middelburg, and particularly Buller Street, has become a breeding ground for rabbits, once considered cute, but now becoming a problem due to their increasing numbers, and damage of gardens.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Maar Al Debbo sing nie verniet:

Hasie, hoekom is jou stert so kort?

hoekom is jou stert so kort?

Jou appeltert jou mielieblaar.

Jou tortelduif jou koringaar.

Jou sak vol goud, jou diamant.

O, ek is aan die brand…

Inwoners wat die hasies vertroetel het was gou aan die brand.

Hasies is soos klein hondjies…te skattig…todat hulle die heelnag tjank en jy die volgende oggend plasies moet opvee.

Hasies is meesters met twee goed: teel en vreet.

Veral vreet.

Een inwoner se bedding met plante is binne ’n paar weke opgevreet.

Boonop het die hasies vir ’n kakafoniese nagmerrie gesorg wanneer hulle voor die bure se huis sit, met honde wat aanhou om vir hulle te blaf.

En hulle grawe gate soos vlakvarke.

Die oulike hasies het probleemdiere geword.

Maar wat maak jy om haas se kind uit jou tuin te hou?

Daar is van jakkals urine tot swart vullissakke wat gewaai word.

Haasafweermiddels is aangeskaf, een inwoner slaan met ’n sambok agter die hasies om hulle af te skrik en heinings is versterk.

Deesdae sing sommige Bullerlaan inwoners ’n ander deuntjie oor die oulike hasies.

En dit is nie hasie waarom is jou stert so kort nie…

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button