News

Sardiensloop op Loftus

Twee perde heel voor in die Curriebekerreeks na net twee rondtes.

As die Curriebekerreeks ’n July perdewedren was, sou twee perde reeds los voor gewees het, die Bulle en Leeus.
En twee perde sou nog in die wegspringblokke gesit het, die Westelike Provinsie en die Haaie.

Na net twee wedstryde is die Bulle en Leeus voor op die punteleer met 10 punte elk. Die WP en Haaie kon nog nie ’n punt verdien nie.

Daar sal die week sekerlik in Kaapstad en Durban koppe bymekaar gesit word om die spanne se Curriebekerveldtog op dreef te kry.

Die Bulle en Leeus speel tans met ervare spelers kookwater rugby.

Die Bulle het vir 80 minute gelyk asof hulle in die see baljaar tydens ’n sardienloop. Daar was net geen einde aan die aanvalle nie en die Durbaniete het so onbeholpe soos ’n haai op droëgrond gespartel om al die nette toe te stop.

Soos Brian Clarke altyd gespot het, die Haaie was gelukkig om niks te kry nie in die 64-0 slagting.

Die WP was ietwat beter as die vorige naweek teen die Leeus maar het steeds met 40-19 verloor.

Na sy oorwinning oor Griekwas is die Pumas harde aarde toe teruggebring in Bloemfontein met ’n 42-25 nederlaag.

Jimmy Stonehouse is nie ’n man wat daarvan hou om so te verloor nie en daar sal beslis in Nelspruit harde woorde val want Saterdag wag die Blou Orkaan in Pretoria op hulle. Afskop 15:00.

Die Boland het gister goed begin teen Griekwas in Kimberley maar hom in die tweede helfte vasgeloop teen ’n begeesterde span. Ondanks die 48-39 nederlaag kan die Wynboere heelwat inspirasie put uit die wyse waarop hulle gespeel het.

Die Middelburger Michael Benadie was met sy rooi skrumpet in die Boland agttal.
Boland speel Sondag om 15:00 tuis teen die Leeus.

Die Haaie en Vrystaat Cheetahs speel om 17:10 in Durban.

Die WP het Vrydag om 15:00 ’n moeilike afspraak teen Griekwas in Kimberley.

Intussen is die Pumas se Danrich Visagie die voorste puntemaker in die reeks met 24 gevolg deur die Bulle se Boeta Chamberlain met 18 punte.
Ashlon Davids, Rabx Makwane, Zak Burger en Jeandré Rudolph het almal reeds twee drieë gedruk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button