Raadslede ontevrede met werk, laagwaterbruggie weer toe!
Daar is gerva dat klippe weer by die ingange gepak word, wat gedoen is.
Die Klein Olifants laagwaterbruggie by Kees Taljaard Stadion is Dinsdag weer toegemaak, nadat motoriste van die klippe weggeskuif, en oor die brug begin ry het.
DA voorsitter van die raad se portefeulje komitee vir infrastruktuur, Johann Dyason, het die koerant Dinsdag op die bruggie ontmoet om sy ontevredenheid met die werk tot dusver uit te spreek.
Dyason sê dat ’n deel van die bruggie geteer is, maar dat die beskadigde deel, waarvan groot dele maande gelede reeds weggespoel is deur vloedwaters, net met beton opgevul is.
Mede DA-raadslid van Kanonkop, Helda de Klerk, stem saam.

Sy sê dat die betonlaag net weer gaan wegspoel as die reënseisoen draai.
Die brug word jaarliks deur vloedwater beskadig, maar gewoonlik vinnig herstel.
Dié jaar was daar eenvoudig nie geld beskikbaar nie, en is die bruggie summier gesluit.
Dis nou al maande wat inwoners ompaaie moet ry, wat met die SANRAL padwerke nóg ’n erger nagmerrie tydens spitstye is.
Dyason sê dat sy portefeulje komitee Woensdag, na druktyd, sou vergader om die ontevredenheid met die brug aan te spreek.
“Die werk is boonop baie onnet gedoen, en plek-plek is daar slote en gate in die teer, wat net weer deur die vloedwaters gelig gaan word,” sê hy.

Daar sal tydens die komiteevergadering ’n inspeksie gereël word van die bruggie.
De Klerk, sê op haar beurt, dat niemand weet wie die werk wat gedoen is goedgekeur het in die huidige toestand nie.
“Dit sal die munisipaliteit vir ons moet antwoord,” sê sy.
Die DA kollegas sê dat die bruggie van hoek tot kant geteer moet word.
Dinsdag is reuse rotse weer aan beide kante van die brug in die pad gerol sodat motoriste nie op die brug kan ry nie, voordat tekortkominge aangespreek is.
Dit is onduidelik of die inspeksie die week nog sal plaasvind.
Dyason sê verder dat hy vrees daar nie verdere fondse beskikbaar sal wees nie.
“Dan sal die brug in sy huidige toestand oopgemaak moet word.”
