News

Derde baba gered deur Madison babakluis!

Madison sal altyd bly voortleef deur dié wat sy red.

’n Pasgebore babaseun is gistermiddag omstreeks 15:15 in die St John’s Presbiteriaanse Kerk se Madison babakluis in Bhimy Damanestraat gevind.

Dit is die derde babatjie wat deur die kluis gered is van ’n gewisse dood op ’n ashoop, of in ’n veld.

Die kluis se alarm is omstreeks 15:15 geaktiveer en verskeie rolspelers is dadelik uit na die kluis waar die gesonde, voltermyn seuntjie in die kluis gevind is.
Hy het steeds sy naelstringetjie aangehad.

Nooddienste het die baba ondersoek en bevind dat hy gesond is.

Die baba is tans in ’n plek van veiligheid en nie huidiglik beskikbaar vir aanneming nie.

Die baba is nou in die hande van die kinderhof en daar word gevra dat maatskaplikedienste nie op dié stadium oorval moet word met navrae oor aanneming nie.

Sodra die hof ’n aannemingsproses aan die gang sit, sal aansoeke aanvaar en gekeur word.

Die skoktoneel waar ’n pasgebore baba in 2017 in ’n tuindrom in Joubertstraat gevind is.

• Op 23 Desember 2021 is ’n dagoue babadogtertjie in die kluis gelaat.

• Op 25 Mei 2021 is ’n pasgebore babaseun in die babakluis gevind.

Middelburg Observer het nog kontak met beide die 2021 en 2022 babas, wat beide baie gesond, spelerig en gelukkig is.

• Die Madison Babakluis is is in 2017 gebou by die St John’s Presbiteriaanse Kerk, nadat kerkleiers dit goedgekeur het.

Die kluis is goedgekeur nadat ’n pasgebore, voltermyn babadogtertjie in Julie 2017, dood in ’n tuindrom in Joubertstraat gevind is.

Die babatjie is deur ’n verbyloper wat in die tuindrom gegrawe het vir herwinbares, onder rommel gevind.

Die baba was toegedraai in ’n kombersie met haar gesig na onder in die drom gevind.

Kerkleiers soos eerwaarde Kokkie Smit was so aangegryp deur die tragiese verhaal, dat hulle dadelik kerkraadsvergaderings belê het, waar daar besluit is om die dogtertjie in die kerk se tuin van herinnering ter ruste te lê.

Die kerk het ook besluit om die baba die naam Madison, wat geskenk van God beteken, te gee.

Eerwaarde Kokkie Smit in die tuin by die kerk waar baba Madison ter ruste gelê is.

Die babakluis is reg langs Madison se rusplek op die kerkgronde gebou.

• Die kluis is juis aangebring om vroue in krisis-swangerskappe ’n geleentheid te bied om hul babatjies ’n kans op lewe te gun, en nie in velde en asblikke te gooi uit desperaatheid nie.

Sodra ’n babatjie in die kluis geplaas word, sluit dit outomaties, en aktiveer ’n alarm.

Talle rolspelers soos maatskaplikedienste, nooddienste en goedgekeurde versorgers word dan ontbied.

Babas word dan dadelik in plekke van veiligheid geplaas.

• Madison was maar net een van talle babas wat oor dieselfde tydperk dood in asdromme, tussen bourommel en selfs drywend in ’n emmer in Athlone-dam gevind is.

• Vroue in krisis-swangerskappe kan gerus wees dat hulle nie geïdentifiseer kan word nie, omdat dat die kluis juis so ontwerp is om hul anonimiteit te waarborg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button