Wat (waar) is die einde van die mensdom se vermoë?
Dr. Henning Gericke onthou daardie wêreldrekord.
Daar is gesê dat dit onmoontlik is om die myl onder vier minute te hardloop.
Tog, op 6 Mei 1954 doen Roger Bannister die onmoontlike deur die myl in 4:59.4 af te lê.
Binne weke doen talle middelafstandatlete dit.
Dit was dalk een van die eerste treë in wat die onbereikbare was.
Toe Neil Armstrong op die maan loop, was dalk nog een van daardie oomblikke.
Maar waartoe is die mensdom nog in staat?
Gaan hy nog op Mars land?
Gaan hy vir jare in ruimtestasies in die hemelruim bly?
Gaan hy die marathon onder twee ure aflê?
Gaan hy die 100m onder nege sekondes afblits?
Ons geslag sal dit dalk nooit beleef nie, maar die onmoontlike sal dalk al meer moontlik word.
Byna 50 jaar gelede het die jong Henning Gericke ’n wêreldrekord vir 16-jariges in die 1 500m laat spat.
“Dit was tydens ’n byeenkoms by die Stellenbosch Atletiekklub georganiseer na ’n middelafstand atletiekkamp. Daar was net ’n paar toeskouers en ek het kaalvoet gehardloop,” sê die geliefde oud-sielkundige van Middelburg.
“Ek was nogal trots om in die klere van Hoërskool Menlopark te hardloop.”
Plaas die tydkapsule 48 jaar verder en ’n 15-jarige het die jongste atleet geword om die myl onder vier minute af te lê.
Nog meer merkwaardig is dat ’n 16-jarige dié week tydens die Amerikaanse kampioenskappe die 800m in 1 min 42 sekondes voltooi het!
“Ek kan net tot een gevolgtrekking kom. Die menslike liggaam, en die menslike psigiese het nie beperkings nie.
“Meer wetenskaplike oefenmetodes speel ’n rol, maar ek het elke dag te doen met kampioene wat regkry wat hulle dink nie moontlik was nie.”
