As rugby ’n sirkus was, kon toeskouers wat Saterdag se kragmeting tussen die Blou Bulle en Pumas bygewoon het, hulle geld gaan terug vra het.
Bulle ondersteuners kan veral verontreg voel.
Middelburgers wat na Pretoria gereis het, R260 gehoes het vir tolhekke, R500 se petrol, kaartjies moes koop en sorg dat die kroos kos en iets te drinke kry, het rede om vandag by die Blou Bulle Rugby-unie aan te klop.
Ja, en glo dit as julle wil, daar is ondersteuners wat van Nelspruit, Middelburg, Secunda en Polokwane na Pretoria reis, om die Bulle te ondersteun.
Want hulle glo: “Waar is dit lekker, by Loftus is dit lekker.”
Saterdag was dit nie lekker nie.
Sedert die afgewaterde Curriebekereeks afgeskop het, word daar gevra of die oudste kompetisie in die wêreld nog plek het op die vol rugby kalender.
Vandat die reuk van deep heat in die kleedkamer vervang is met die reuk van geld, het rugby radikaal verander.
Die tradisionele stryd tussen ’n Noord-Transvaal en Westelike Provinsie met Louis Moolman, Adolf Malan, Thys Lourens, Tommy du Plessis, Naas Botha, Piere Spies, Rob Louw, Hennie Bekker, Hempies du Toit, Calla Scholtz en ’n string provinsiale helde, is nou vervang deur die verenigde rugby kampioenskap.
Daar kan maar net met heimweë onthou word hoe volgepak Loftus was wanneer die vyand uit die Kaap opdaag en ’n bebloede Lourens hou die gesogte beker omhoog.
Wanneer die Springbok keurders hom die soveelste keer oor die hoof sien, kan daar nie gewag word “dat Thys hulle wys nie.”
Nou kan Oubaas van 7deLaan soos die res van die land sug: “Wat het van die Curriebeker geword?”
Na die eerste twee wedstryde is daar uitgesien na die wêreldbeker junior Bokkies se bydrae tot die kompetisie.
Rugbyliefhebbers wat ook gedink het die sewes Bokke sou gate deur ander spanne hardloop, is gou ontnugter.
Die o/20 Bokkies is net dit, Bokkies.
Die sewes Bokke het skielik 15 ouens wat sorg dat hulle ruimte beperk is.
Daar kan ’n saaak gemaak word dat die reeks help om jong spelers te ontwikkel.
Kyk wat het met Jan-Hendrik Wessels gebeur nadat hy ’n skrumles by Morgan Naude gekry het?
Alles mooi, maar toekouers wil nie gaan kyk hoe word jong spelers ontwikkel en hulle helde se neuse in die grond gevryf soos Saterdag met die jong Jean Erasmus nie.
Nouja en as Saterdag se kragmeting wat die Bulle met 42-7 gewen het ’n boksgeveg was, sou dit aangeteken gewees het as “mismatch”.
Die Pumas en hulle afrigters is ’n geharde groep wat al in die loopgrawe was. Om ’n klomp seuns teen hulle te laat speel, was moeilikheid soek.
Selfs Jeandre Rudolph wat vir twee weke onkeerbaar was, was skielik uit sy diepte.
Die Blou Bulle president, Willlem Strauss, het erken dat die skade wat aan die verenigde rugby kampioenskap spanne se handelsmerk aangerig word, kommerwekkend is.
Hy is reg.
Die Haaie het sy man teen die Cheetahs gestaan en met net 7-5 verloor na sy rekord nederlaag verlede week teen die Bulle.
Die Boland het nog ’n top span laat struikel deur die Leeus Sondagmiddag met 29-10 te troef.
Wellington is besig om ’n begraafplaas te word vir besoekende spanne nadat die Cheetahs ook daar slae gekry het.
In Kimberley wen jy ook nie maklik nie.
Die Westelike Provinsie het Vrydagmiddag verloor Eindtelling Griekwas 47 – WP 17.
Na drie wedstryde is die Pumas bo aan die punteleer met 11 punte, Cheetahs en Boland ook 11, Bulle, Leeus en Griekwas is op 10 punte. Die WP het nog geen punte nie en die Haaie net een.
Die Haaie speel Vrydagmiddag in Kimberley teen Griekwas om 15:00.
Die Pumas en Leeus is Saterdag om 14:00 in Nelspruit slaags.
Die Vrystaat pak die WP ook om 14:00 in Bloemfontein.
Die jong Bulle het Sondag om 15:00 ’n afspraak met Boland op Wellington. Dit kan aanbeveel word dat hulle die gebedsdiens wat voor wedstryde in die stadion gehou word bywoon. Hulle gaan dit nodig hê.
