Vriendelike naskooljuffrou val by trappe af
Een van die vriendelike naskooljuffrouens by Laerskool C.R. Swart het tuis geval en 'n ernstige beenbreuk opgdoen.
Sandra Oosthuizen (53) het Saterdag by trappe by haar huis afgeval en haar been net bokant die knie gebreek.
“Ek het voorheen ’n heup- en knievervanging gehad en my balans is nie wat dit moet wees nie. Saterdag net na 07:00 wou ek gaan koffie maak, toe ek my balans verloor en by die trappe af val.” Sy het dadelik geweet sy het haar been gebreek, want die ergste pyn denkbaar het deur haar geskiet.
“Gelukkig was my seun, Heinrich Wilters, hier, anders weet ek nie wat sou gebeur het nie! Hy het my opgetel, in die bed gesit en kort daarna dokter toe gevat.”
X-strale het hul vrese bewaarheid dat haar been gebreek is, presies bokant die knie, waar ’n knievervanging voorheen gedoen is.

Dié op en wakker rooikop naskooljuffrou van Laerskool C.R. Swart sukkel om daaraan gewoon te raak om pal in die bed te wees, want sy kan nie nou geopereer word nie.
Sy vertel dat sy sowat ses maande gelede haar mediese fonds verloor het omdat sy dit net nie meer kon bekostig nie.
Haar man, Koos, is in 2023 oorlede. Sy het hom vir ses jaar versorg tot met sy dood. Dit is een van die redes dat sy self ’n heup- en knievervanging moes ondergaan.
Na sy dood kon sy nie meer al die uitgawes dek nie en moes sy noodgedwonge die mediese fonds staak.
By plaaslike provinsiale hospitale sal sy op ’n waglys geplaas word en om die operasie privaat te laat doen, gaan R250 000 kos.
Sy word tans by haar dogter, Chenique, in Johannesburg versorg en kyk hulle daarna om in die week na die provinsiale hospitaal in Potchefstroom te pendel om te vra of sy nie daar geholpe kan raak nie.
“Ek vertrou op die Here, ek glo Hy sal voorsien,” het sy hierdie week gesê.
Met die hulp van vriende leen sy tans ’n spalk en ’n rolstoel en wil sy hulle en haar kinders uit haar hart uit bedank vir hul ondersteuning.
