Al by hospitale, oral in Middelburg en by forensies na Kobus gesoek
Kobus Pretorius is steeds weg.
Kobus Pretorius (33) het net verdwyn en is talle mense besig om na hom te soek.
Sy suster, Madelein Fouché, raak ontsteld as mense kommentaar lewer as hulle nie weet waarvan hulle praat nie.
“Sy familie, werkgewers, die gesin waar hy sy woonstel huur en ook lede van die gemeenskapspolisiëringsforum/Gemeenskap in Blou het al oral gesoek na hom.”
Die hele Middelburg Hospitaal is ook deursoek om te kyk of hy nie daar is nie en hulle is na die forensiese kantore om te hoor of hy nie dalk oorlede is nie. Daar is egter geen teken van Kobus nie.
Hy is die naweek deur die Uber maatskappy by sy woonstel afgelaai nadat hy in Kanonkop gaan kuier het.
Daar is intussen verneem dat hy by sy blyplek vir die Uberdrywer gevra het om te wag dat hy net geld gaan haal. Die Uberdrywer het aangedring daarop dat hy sy selfoon in die voertuig agterlos en het hy ingestem. Hy het egter nooit teruggekom nie.
Die selfoon is Maandag aan die familie oorhandig toe hulle naarstigtelik na hom begin soek en na sy selfoon geskakel het, omdat hy nie by die werk opgedaag het nie.
Herculaas Taljaard (GPF en Gemeenskap in Blou) maak deel uit van die soekspanne wat na Kobus soek. Hy het gemeld dat daar op die oog af niks weg is by Kobus se woonstel wat ‘n aanduiding kan wees dat hy dalk iewers heen is nie. Daar is ook geen tekens van ‘n struweling nie.
Hy meld dat daar aan om genoem is dat Kobus Maandag omstreeks 06:00 gesien is toe hy klaarblyklik geloop het om te gaan werk. Hy het egter nooit by die werk uitgekom nie.
Indien jy dalk weet waar Kobus is, of inligting het wat kan help om hom op te spoor, skakel Madelein by 066 555 1039.
- Madelein wil graag elke persoon wat hul tyd opoffer om na Kobus te soek, van harte bedank.
