By De Voetpadkloof-oord is drie klipspringers wat die speletjie, bok-bok-staan-styf tot die uiterstes vat.
Die oulike bokkies laat vakansiegangers na hulle asem snak, deur die hoë grasdak van die onthaalsaal behendig uit te klim.

Hulle staan dan lank heel bo op die dak en bespied die wêreld.
Die hondmak bokkies stap elke dag ongestoord deur die oord en steur hulle nie aan kampeerders nie.
Pastoor Renier Pelser, wat verlede week by die oord gekuier het om sy 60ste verjaardag te vier, sê hulle was verstom met die wyse waarop die bokkies grasdakke aangedurf het.

Volgens Wikipedia het volwasse klipspringers ‘n gemiddelde massa van 16 kg en ‘n hoogte van ongeveer 60 cm. Ooie is ietwat groter as die ramme. Die ram het skerp, reguit horings wat tot 16 cm lank kan word. Klipspringers het ‘n gelerige huid, met ‘n wit pens. Die binnekant van die ore is ook wit.

Bok, bok, staan styf is ‘n speletjie waar deelnemers in ‘n ry agter mekaar staan.
Die voorste deelnemer buk vooroor en plaas sy hande op die grond voor hom (die eerste bok wat styf staan). Die deelnemer agter hom kom dan aangehardloop, druk met sy hande op die volgende persoon se rug en spring wydsbeen oor.
Na die sprong word daar ook vooroor gebuk (die tweede bok). Die volgende deelnemer spring dan oor beide totdat almal gebuk staan. Die agterste een spring dan op en herhaal die proses. Die spel hou aan totdat almal moeg is.
@middelburgobserver Vakansiegangers by De Voetpadkloof word besoek deur klipspringers.
