NewsSport

Video: Ou Toppies? Ou Toppies se voet!

Middelburg se 60-plussers glo: “Don’t let the old man in!”

Daar moet iets in die water van die Klein Olifantsrivier wees.

Hoe dan anders?

Die dorp se oor 60-jariges het nie net ’n huppel in die stap nie, maar ook ’n huppel in die trap.

Hulle glo beslis soos Toby Keith sing:
“Try to love on your wife
And stay close to your friends
Toast each sundown with wine
Don’t let the old man in…”.

Daar is Suid-Afrikaanse meesters atletiekkampioene, ystermanne van formaat, gholfspelers wat die jong manne klop, tweekampkampioene, fietsryers wat gereeld op die podium staan en aktiewe parkrunners.

Waar ander mans van hulle ouderdom in die ouetehuis sit en vingers tel, kom ’n groep oor sestigers Dinsdagoggende bymekaar vir ’n sosiale fietsrit van 30 tot 40 kilometer.

Dan het die dorp boonop die man wat bekend staan as ‘Meneer Loskop’, Hein Koch, wat al vir 38 jaar onder andere die wedloop organiseerder van die Loskop Marathon is.

En as enigiemand nog wil stry…die enigste deelnemer in Suid-Afrika wat 42 Ysterman kompetisies voltooi het, is ’n Middelburger, Cobus Fourie (68). Boonop is hy ’n bobaas fietsryer en landloopatleet.

Piet Swanepoel (68). Hy was tweede by die 2025 Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskappe wat op George aangebied is en het verlede jaar negende geëindig in die wêreld tweekampkampioenskappe in Australië.

Vir die 60 plussers is dit niks om Damwal toe en terug te ry nie. Bo: Len Sutton, Piet Swanepoel, Pine Pienaar,Tobie van den Bergh en Cobus Fourie. Heel regs voor is Francois Hefer. Onder: Andrew Thompson, Francois Hefer en Lyndon Kelly. FOTO: Verskaf.

Deriek Swart (62). Was verlede jaar lid van die aflosspan wat die uitdagende Munga Equipe bergfietswedren oor 1 200km gewen het. Vandat hy vier jaar gelede begin fietsry het, het hy al 58 744 kafgetrap. (Lees sy meer volledige berig elders).

Conrad Stoltz (79). Hy het 22 Comrades Marathonne voltooi met sy beste tyd 7:11 en 22 Loskop Marathonne met ’n beste tyd van 3.28. By die provinsiale meesters atletiekkampioenskappe op Pilditch in Pretoria verower hy goue medaljes in die 100m, 200m, verspring en hoogspring. Hy het al 192 parkruns klaargemaak.

Conrad Stoltz – meesters goue medalje atletiekwenner. FOTO: Verskaf.
@middelburgobserver

The town where they believe – ‘don’t let the old man in.’ Conrad Stoltz, Middelburg

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Kobus Lourens (88). Dié veteraan drawwer het al 405 parkruns voltooi en nog is die einde nie in sig nie.

Kobus Lourens. FOTO: Middelburg Observer.

Pine Pienaar (68). Een van Middelburg Fietsryklub se top veteraan fietsryers. Hy was verlede jaar tweede in die Jock fietswedren wat van Witrivier na Nelspruit aangebied word en die Long Tompas insluit.

Ewie Rust, Pine Pienaar en Tobie van den Bergh na die strawwe Jock fietswedren.

Len Sutton (69). Die huidige Mpumalanga fietsrykampioen in sy ouderdomsgroep. Hy het die provinsie by die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe verteenwoordig.

Francois Hefer (59). Dié ervare fietsryer het in 2024 die Tour du Cap, ’n vyfdag fietstoer in die Wes Kaap, voltooi.

Johnny Kruger (89). Hy staan vir geen gholfspeler terug by die Middelburg Buiteklub nie en het op 5 Julie ’n gholfkompetisie by die klub gewen.

Danie Joubert (79). Die 2022 Suid-Afrikaanse landloopkampioen was in 2023 derde en verlede jaar vyfde in die ouderdomsgroep 75 tot 79 jaar. Hy voltooi die 2025 Wild Challenge Loskop halfmarathon saam met sy dogter Agnieta en seun Danie. (Nog ’n berig oor sy prestasies verskyn later).

Danie Joubert saam met sy seun, Danie jnr en sy dogter Agnieta tydens die 2025 Wild Challenge Loskop halfmarathon. FOTO: Verskaf.

Johan Meiring (71). Hy is deel van die Middelburg Fietsryklub se veterane groep wat Dinsdae saam ry.

Johan Stoffberg (71). Mis nie ’n fietsrit Saterdagoggende nie en jaag soos ’n jong man.

Des Jelliman (70). Kan bekend staan as Mpumalanga se halfmarathon koning in sy ouderdomsgroep. Op 22 Maart 2022 het hy die Nelspruit halfmarathon gewen in 1:46:52, op 25 September 2022 die Elandsvallei in 1:44:34 en 5 November 2022 die Kaapsehoop in ’n tyd van 1:42:48.

Andrew Thompson (63). Presteer vir Middelburg Fietsryklub in padfiets en bergfietse. Hy is ook ’n ysterman deelnemer.

Enige ander stad of dorp wat met so groep sportmanne kan meeding?

Bring maar julle Ou Toppies!

Hier is hulle pure Galoppies.

Want hulle glo… “don’t let the old man in”…

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button