Video: Verslaafdes verwoes huis – die stank en leegheid wat jou asem wegslaan
'n Eens netjiese huis in Kanonkop is heeltemal verwoes deur dwelmverslaafdes en is dit skokkend om te sien hoe dit binne lyk.
“No more drugs,’ staan op ‘n kartonbordjie teen ‘n muur.
Binne vertel ’n vervalle huis ’n ander verhaal.
Skouerhoogte gras wat by die huis aan die brand gesteek is, het inwoners Donderdagaand paniekbevange na hulle selfone laat gryp, om vir hulp te vra.

Die brandweer het net betyds die vlamme gekeer, voordat dit skade aan die bure se skadunette kon aanrig.
Met die Observer se aankoms het iemand op die toneel gevra of ons al gesien het hoe dit binne in die huis lyk.
Die stikdonker word verlig met ‘n barmhartige samaritaan se flits en is ons by die hool (ja ons noem dit so omdat dit nie meer soos ‘n huis binne lyk nie) in.

Meeste van die vensters is gebreek, maar steeds slaan die stank van gebrande artikels en menslike uitskeidings jou asem weg.
Dit is duidelik dat die huis deur dwelmverslaafdes as skuilplek gebruik word.
Niemand is daar nie, maar dit wat teen die mure en op die vloer agtergebly het, gee jou ‘n kykie in die lewe van elke verslaafde wat op die kartonbokse slaap…sonder komberse.

In wat eens ‘n sitkamer was, is daar swart roet tot teen die dak van iets wat aan die brand gesteek is vir ‘n bietjie hitte.
Die flits vang woorde langs die roet, wat met die einste roet geskryf is: “Mis jou!”

Met dieselfde roetvingers is ook ander boodskappe geskryf. Met pyltjies wat heen en weer getrek is, staan daar: “Kom na Renies, moenie geraas maak nie asb.”

Tussen woorde wat doodgevee is, maak jy ook uit: “I’m sorry for the things I disrespect.” Die res is onsamehangende verkeerd gespelde woorde.

Die gat in die gangplafon vertel dat al die drade uit die dak geruk is.

Dan kom die kamers aan die beurt. Al die kaste is uitgebreek, in een gat is vuur gemaak. In die hoek staan drankbottels met iets in, beslis nie drank nie. Die glasbottels in die ander hoek se boonste gedeeltes is afgebreek om daardie vervloekte dwelm’lekkerte’ te kan inasem.

Oral lê foeliepapiertjies en op ‘n groot omgekeerde blik is daar duidelik iets fyngedruk…net ‘n paar fyn wit stukkies het oorgebly.

In die laaste kamer lê ‘n hoop ronde plaatjies. Dit is afgebreek van iets af, iets wat dalk gesteel is…

By die toilet skud jy jou kop, want daar is goed ingedruk om seker te maak hy werk nooit weer nie. Die bad is uitgebreek.

Niks is oor in die kombuis nie, selfs die teëls is uitgehaal.
Die flits beduie na ‘n buitegebou wat moontlik ‘n woonstel kon wees.
Naarheid stoot op saam met die deur wat oopgaan. Die vloere lyk asof daar 10 honde toegemaak was, maar die waarheid is dat dit nie honde was wat daar gesit het nie, maar mense! Talle koeldrankbottels met urine in, wys duidelik waarvoor die gebou gebruik word.
As jy uitstap na jou kar toe, is dit nie net die reuk wat saam met jou gaan nie, maar ook die leë oë van talle vorige dwelmverslaafdes wat al bakhand gesmeek het vir ‘n paar sent.
Daardie nag is dit die leegheid van Proteastraat 16 wat jou wakker hou.
Daardie leegheid waar mense bly.
Mense wat nie die dwelmdraak kan los nie, maar tog op ‘n stukkie karton skryf: “No more drugs.”

@middelburgobserver Drug house in Protea Street, Kanonkop, Middelburg shocks both neighbours and a journalist who saw the harsh reality inside. Middelburg, DrugAwareness, RealityCheck
