Die Curriebeker is deesdae soos daai stiefkind wat niemand wil hê nie, maar niemand weet ook wat om met hom te maak nie.
Die Blou Bulle president, Willem Strauss, het verlede week gesê die reeks is nie goed vir die handelsmerk van die verenigde rugby kampioenskap franchises nie.
Na die Bulle se patetiese vertoning Sondag teen die Boland, wat hulle 28-20 verloor het, kan bygevoeg word, die reeks het ’n verleentheid geword.
Nie net vir die groot rugby unies nie, maar ook vir die spelers.
Die wyse waarop die Bulle spelers die kragmeting benader het, was skokkend.
En dit was nie die junior spelers nie, maar senior spelers soos Stravino Jacobs wat ’n bal in sy doelgebied nonchalant uitgeklap het, Cornel Smit wie se dissipline hom lelik in die steek gelaat het en ook Juann Else.
Die jong Bokkie, Esethu Mnebelele is ook gegeel omdat hy ’n Boland speler aan sy trui teruggetrek het.
Die Bulle speel Sondag om 15:00 by Tuine Rugbyklub teen Griekwas.
Die Vrystaat Cheetahs het die Westelike Provinsie met 31-24 geklop, die Pumas het 35-36 teen die Leeus vasgeval en Griekwas het met 26-17 teeen die Haaie gewen.
Die Pumas pak die Boland Vrydag om 17:00 in Nelspruit, die Haaie en WP speel Vrydagaand om 19:00 in Durban en die Cheetahs en Leeus is Saterdag om 14:00 in Bloemfontein slaags.
