News

Die stad het sy dinges gesien, soos die Bokke

’n Saterdagmiddag op Ellispark met Raasssie… sie(s).

Dit is altyd beter op die grootskerm. Grootskerm seker soos op televisie. Ander ouens beweer weer dit is beter langs die veld.

Kry ’n uitnodiging om die Bokke en Australië op Ellispark te gaan kyk. ’n Lekker vooruitsig, want ’n oorwinning vir Bok se kind is mos blote formaliteit?
Meen, die klomp kangaroe’s kon nog nooit op die Johannesburg heiligdom wen nie.

Ons kry parkering digby die pawiljoen. ’n Braaier word uitgehaal en die feestelikheid begin. Daar is oorverdowende musiek.
Opgewondenheid hang dik in die lug.

Wou nou nie die partytjiebederwer wees nie, maar noem terloops die Aussies is ’n gevaarlike span.
“Hulle het pas teen die Britse en Ierse Leeus gewen, nadat hulle die reeks op omstrede wyse verloor het.
“Talle van die Bokke is nie wedstryd skerp nie.”

Dink so by my selwers “hierdie is nie URC of Curriebeker nie.” Hierdie is land teen land. En Joe Schmidt is geen pampoen nie.

Op pad na die stadion staan minister van sports, Gayton McKenzie, breëbors, vol selfvertroue.

Vuurwerke skiet die skrik uit jou.

Wanneer Rassie se foto op die grootskerm gewys word, bars die skare in ’n beserkte euforie uit…”Raassie Raassie, Raassie…sie, sie, sie…”. Volksheld, onoorwinlik, die man met ’n plan.

Mense van alle kleure en geure sing die volkslied asof hulle op ’n Idols-verhoog staan.

Iemand wys vanwaar die vliegtuig gaan kom. Die vliegtuig kom nie.

Die Bokke begin soos ’n weghol veldbrand. Na 10 minute merk die jong toeskouer langs my op “hierdie is nie die Britse Leeus nie.” En nog later…”ag nee, ’n maklike wedstryd.”

’n Rekordtelling word voorspel. Rustyd breek aan met die Bokke 22-5 voor.

Die Aussies veg terug.

Agter ons word ’n dronk toeskouer al meer spraaksaam.

Die Bokke probeer Rassie-truuks, niks werk nie.

Wanneer die ‘bom squad’ opdraf, klink dit weer soos die Tweede Wêreldoorlog.

Die skeidsregter word al meer gevloek. Alles sy skuld.

Die eindfluitjie blaas.
Australië 38 – Suid-Afrika 22.

Dikbeklanggesig toeskouers strompel verslae na hulle karre. Een ou met stokstyfdronkoë vra: “Ek soek ’n lift Pretoria toe.”

Ons kry ’n gratis toer van Ellispark af, deur die Johannesburgse middestad. Riool in die strate, ’n afgebrande gebou, vervalle strukture, straatligte en verkeersligte wat nie werk nie, wat vir ’n surreal atmosfeer sorg.

Dit is duidelik, die stad het sy g@t gesien…
Soos die Bokke vroeër die middag…
…en Dricus Sondagoggend…

https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7539861245629926712

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button