Sprankelende Hildewald het ‘n hart vir bejaardes en diere gehad
Hildewald was 'n versorger en buurvrou duisend.
Hildewald Groenewald (46) se roeping was om met bejaardes te werk en sal sy gemis word deur elke inwoner van die SAVF Tehuis vir Bejaardes.
Sy het op 27 Junie by ‘n gasteshuis in Pretoria van trappe afgeval en is in die Pretoria Oos Hospitaal opgeneem. Sy het nie ernstige beserings opgedoen nie, maar het kort na haar opname varkgriep opgedoen, wat haar longe aangetas het. Sy is in die intensiewe eenheid opgeneem en op ‘n ventileerder geplaas.
Verlede week is die ventileerder vir rukke afgehaal en kon sy vir etlike ure self asemhaal.
Haar toestand het egter weer verswak, waarna sy teruggeplaas is op die ventileerder. Sondagaand het haar toestand meer agteruit gegaan en is sy Maandagoggend oorlede.
Die sprankelende Hildewald was wyd bekend in Middelburg en het sy vir jare as suurstofterapeut gewerk as suurstofvoorsiener.
Die afgelope twee jaar het sy in almal se harte gekruip as vrywilliger en versorger by die SAVF Tehuis vir Bejaardes. Sy was besig met opleiding in Pretoria om haar te bekwaam as gekwalifiseerde tuisversorger toe sy by die gastehuis, waar sy tuisgegaan geval het.
Haar familie onthou haar as ‘n persoon wat maklik met ander oor die weg gekom het en ‘n besondere liefde vir bejaardes en diere gehad het.
Andre Tessner, een van haar bure by die Gelderhof Kompleks waar sy gebly het, het hierdie week gesê dat, “Hildewald die beste buurvrou ooit was.” Sy het ook besondere vriendskapsbande gehad met een van haar ander bure, Dine-Marie Steenkamp.
Die begrafnis is Vrydag om 10:00 uit die NG Kerk, Suid-gemeente.
- ‘n Volledige huldeblyk oor Hildewald sal in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.
