News

Van Naas tot Slaptjips gee skolerugby woema

Maar wie gaan Middies se nuwe rugbybaas word?

Wie gaan Hoërskool Middelburg se nuwe rugbyhoof word?

Daar word gespot dat Rassie Erasmus die pos kon gekry het as die Bokke nie Saterdag so vrotsig was teen Australië nie.

Die grappie oor Rassie moet nie ligtelik opgeneem word nie.

Skole regoor die land spog deesdae met oud-Bokke as hulle afrigters of die mooi titel wat hulle kry, sportdirekteur.

Daar was verlede jaar ’n beroering toe Naas Botha aangestel is om Eldoraigne uit die rugby-woestyn te lei. Baas Naas, Noord-Transvaal losskakel en legende.

Vanjaar is Bok voorry Jannie du Plessis, aangestel om Hoërskool Monument af te rig.

Vroeër die jaar het HTS Witbank gespog met die ervare rugby-afrigter, Blikkies Groenewald, wat sy rugbyspanne se vaardighede opskerp.

HTS Middelburg het natuurlik ’n groot vis gevang toe hulle Jano Venter aangestel het.

Jano Venter by HTS Middelburg. Foto: Facebook.

Venter se bloed was reeds rooi, maar hy het na skool sy tande geslyp by die Leeus, Blou Bulle en ook saam met internasionale spelers in Japan gespeel.

Hy doen tans uitstekende werk by die Rooi Bulle.

Die oë het veral gerek toe Rudy Joubert aangestel is as Hoërskool Ermelo se direkteur van sport.

Wat maak die Bokke se 1995 tegniese raadgewer op Ermelo?

Hy het intussen diep spore getrap ook op administratiewe gebied.

Joubert het ’n indrukwekkende CV. Hy was onder andere sport-organiseerder by die Universiteit van Pretoria (Joubert se alma mater), die direkteur van afrigting by die Transvaalse Rugby-unie, asook die Suid-Afrikaanse Rugby-unie, hoofafrigter van die Namibiese wêreldbekerspan, assistent-afrigter van die Springbokke wêreldbekerspan, hoofafrigter van verskeie spanne (Springbokke, Cardiff Heineken Cup, Bulls Super Rugby, Valke Curriebeker en Pukke Varsity Cup en die direkteur van rugby vir die Valke se professionele span.

Rudy Joubert. Foto: Facebook.

Geen wonder die rugby publiek het in hulle whiskey gestik toe hulle hoor hy werk nou op Ermelo.

Een van die hoëprofiel Springbokke wat by ’n prestige skool die ghitaar slaan, is Pieter Slaptjips Rossouw, wat die laaste klompie jare Paarl Gimnasium se afrigter is.

Hoërskool Middelburg se hoof wat self vanjaar nog die Puma hoërskole span afgerig het, mnr. JJ Hennop, sê hulle het baie aansoeke gekry, “werklik kundige mense in skolerugby, maar nie oud-rugbyspelers nie”.

Aansoeke sluit Vrydag 22 Augustus.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button